Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Tennis
Djokovic: ‘Ek sal weer uitbarstings hê’

Novak Djokovic, die voorste tennisspeler ter wêreld, sê hy kan nie waarborg dat hy nie weer ’n soortgelyke fout sal begaan as wat gelei het tot sy diskwalifikasie uit die Amerikaanse Ope nadat hy ’n lynregter per ongeluk met die bal raakgeslaan het nie.

Novak Djokovic warm Maandag in Rome op vir die Italiaanse Ope. Foto: Reuters

Hy het egter die versekering gegee dié veelbesproke voorval sal nie sy tennis in die toekoms beïnvloed nie.

Djokovic het die media Maandag in Rome die eerste keer te woord gestaan nadat hy in die vierde ronde in New York gediskwalifiseer is toe hy die bal uit frustrasie in sy wedstryd teen die Spanjaard Pablo Carreno Busta geslaan en ’n vroulike lynregter teen die keel getref het.

Djokovic, wat reeds om verskoning gevra het, sê hy het sedertdien met die lynregter kontak gemaak om na haar gesondheid te verneem.

“Ek kan nie belowe of waarborg dat ek nie weer iets soortgelyk gaan doen in my lewe nie,” het Djokovic by die Italiaanse Ope gesê.

“Ek probeer om die beste weergawe van myself te wees op die baan en van die baan af en ek weet dat ek weer uitbarstings sal hê, want dit is die soort van persoonlikheid wat ek het. Ek sal dit wel as ’n duur les beskou.”

Ná die voorval het die toernooi-organiseerders vir Djokovic met $250 000 beboet, wat sy prysgeld was vir die vierde ronde. Hy is ook $10 000 vir onsportiewe gedrag beboet.

“Daar was heelwat bespreking of ek dit verdien het om so gestraf te word. Ek aanvaar dit,” sê Djokovic. “Ek glo egter nie ek sal dit ooit vergeet nie.”

Die diskwalifikasie het Djokovic meer tyd gegee om voor te berei vir sy eerste kleibaantoernooi vandeesweek in die Italiaanse Ope.

Hy het vanjaar 26 van sy 27 wedstryde gewen en hy bly ’n gunsteling om die Franse Ope te verower, wat op 27 September in Parys begin.

“Dit is goed om nou so gou nadat dit gebeur het weer in ’n toernooi te speel, want ek voel hoe gouer ek weer mededingend kan begin speel, hoe beter. Ek hoop vir die beste,” sê die 17-malige Grand Slam-wenner. – Reuters

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.