Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Tennis
Djokovic én Vader Tyd staan in Roger se pad

Soos so dikwels in die era van manstennis se Groot Drie, is daar vandag weer ’n droomeindstryd van ’n Grand Slam-toernooi op die spyskaart as die eerste gekeurde kampioen, Novak Djokovic, die agtmalige kampioen en ongekroonde koning van Wimbledon, Roger Federer, mekaar op Centre Court pak.

Federer het eergister sy 12de Wimbledon-eindstryd gehaal deur sy grootste teenstander, Rafa Nadal, in vier stelle uit te knikker nadat Djokovic dit ewe maklik met Nadal se moedige mede-Spanjaard Roberto Bautista Agut gedoen het.

Op papier is die 32-jarige Serwiër die gunsteling om koning te kraai oor die Switserse superster, wat eersdaags 37 word. Nadat hy lank met ’n elmboogbesering gesukkel het en gelyk het asof hy belangstelling begin verloor, oorheers hy manstennis.

Novak Djokovic. Foto: Getty Images
Novak Djokovic. Foto: Getty Images

Vanoggend word hy wakker as Amerikaanse Ope-, Australiese Ope- en Wimbledon-kampioen, ter illustrasie. Of hy nog môreoggend dieselfde sal kan sê, is egter ver van ’n uitgemaakte saak.

Sedert Federer ná vroeëre vormverlies met ’n groter raketkop begin speel het, het hy Nadal in ses van hul laaste sewe kragmetings pak gegee. In hul jare lange wedywering was Nadal steeds 24 keer in 40 wedstryde baas, wat jou sê dat hy die afgelope paar seisoene ten minste dié bemeester het.

Waar hul halfeindstryd Vrydag onvleiend vergelyk is met hul klassieke Wimbledon-eindstryd van 2008, is dit darem nou 11 jaar later – wie sou destyds kon droom dat hulle meer as ’n dekade later steeds die standaard sou stel? Vader Tyd begin nietemin sy tol eis. Hoewel Nadal enduit teruggeveg en vier wedstrydpunte afgeweer het, was hy in die vierde stel duidelik poegaai. Hy het oor die algemeen verbasend sku voorgekom en Federer se afslane doer ver staan en inwag, wat hom soos ’n handskoen gepas het.

LONDON, ENGLAND - JULY 12: Roger Federer of Switze
Roger Federer. Foto: Getty Images

Federer het in die tweede helfte amper komieklik traak-my-nie-agtig gelyk, maar in die derde en vierde stelle het hy al die kinkels in sy spel uitgestryk en Nadal grotendeels tot die agterbaan beperk.

Speel hy vandag drie sulke stelle, kan hy Djokovic onttroon, maar dié is ’n veel gevaarliker teenstander as wat Nadal eergister was. Gras is nie die groter Spanjaard se gunsteling-oppervlak nie, maar Wimbledon pas Djokovic net so goed as vir Federer, soos sy vier titels in vyf eindstryde getuig.

Hy’t effentjies geskrik toe Bautista Agut eergister die tweede stel wen en die druk in die derde stel op hom laai, maar Djokovic bring jy ewe moeilik van stryk as vir Federer. Hy’t hom in ’n stadium effens vererg vir die toeskouers se luidkeelse ondersteuning van sy slagoffer en toe dié gemaklik en elegant genoeg afgeransel dat hy ’n hand half sarkasties agter sy oor kon hou vir applous.

Sy beweeglikheid op die baan en bedrewenheid van agter af maak hom ’n veel taaier toffie as Nadal en hy ís meer as vyf jaar jonger as sy teenstander. Sou die wedstryd dus vyf stelle duur, raak ’n Federer-oorwinning des te meer onwaarskynlik.

Maar niemand het nog ryk geword deur teen Roger Federer te wed nie.

Wimbledon
Meer oor:  Novak Djokovic  |  Roger Federer  |  Rafa Nadal  |  Wimbledon
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.