
Een van Novak Djokovic se hemde word opgeveil om geld in te samel vir Suid-Afrikaanse tennislui wat tans finansieel swaarkry.Foto: Getty Images
’n Getekende hemp van die wêreld se voorste speler, Novak Djokovic, is onder die gedenkwaardighede wat die komende paar weke te koop is op ’n aanlyn veiling ten bate van Suid-Afrikaanse tennisafrigters.
Al die geld wat só ingesamel word, gaan vir die Tennis Cares-fonds.
Tennis Suid-Afrika (TSA) en John Laffnie de Jager, voormalige Davis- en Fedbeker-kaptein van Suid-Afrika, sowel as die Caring Daisies, het dié fonds vandeesmaand op die been gebring om geregistreerde afrigters en tegniese beamptes by te staan wat finansieel weens die Covid-19-pandemie noustrop trek.
Hulle het ’n beroep op spelers en ondersteuners gedoen om by te dra om verligting te bied aan dié lede van die tennisgemeenskap, wat kwaai sukkel in dié beproewende tye.
Djokovic (Serwië) se hemp sal vir nog ’n week langer, tot op 27 Mei, beskikbaar wees om op te bie.
Die laaste bod daarvoor het op €220 (R4 300) gestaan.

Raven Klaasen. Foto: Getty Images
Die raket van Suid-Afrika se Raven Klaasen waarmee hy in 2018 in die Wimbledon-dubbelspeleindstryd gespeel het, is ook reeds op die veiling beskikbaar.
Klaasen en Michael Venus van Nieu-Seeland het daardie dag in ’n rillerstryd van vyf stelle met 3-6, 7-6(9/7), 3-6, 7-5, 5-7 teen Amerika se Mike Bryan en Jack Sock vasgeval.
Versamelaars kan vorentoe ook op die uitkyk wees vir gedenkwaardighede van die Grand Slam-wenner Johan Kriek, sowel as ’n gesogte aandenking uit Roger Federer en Rafael Nadal se Match in Africa, wat in Februarie voor ’n wêreldrekord-skare in Kaapstad beslis is.
Meer besonderhede is op TSA se sosialemediaplatforms beskikbaar.
’n E-pos met die bedrag waarvoor gebie word, kan aan tenniscares@caringdaisies.co.za gestuur word.
Tennis Cares het volgens TSA verlede week 14 mense in die tennisgemeenskap ondersteun, terwyl die onafhanklike paneel wat toewysings maak, vandeesweek nog 25 gevalle oorweeg.