Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Tennis
Djokovic in sy pasoppens vir Jong Turke

Die Serwiese tennisspeler Novak Djokovic sê veranderinge aan wie in die toekoms as die ATP Tour se kampioen gekroon word, is onafwendbaar – en dat verandering nou nader as ooit voel.

Djokovic (32) het saam met Rafael Nadal (33) en Roger Federer (38) die afgelope meer as ’n dekade die boonste plekke by die meeste toernooie hulle s’n gemaak.

Novak Djokovic besef maar te goed dit gaan bloedsweet kos om die jonges veel langer van die partytjie af weg te hou. Foto: Getty Images

In daardie tyd het baie uitdagers gekom en gegaan, met slegs die Brit Andy Murray wat gelyk het of hy konstant saam met die buurt se groot honde kan blaf.

Tog, met die jare wat aanstap en ’n klomp belowende jong spelers wat hul lippe aflek om die Groot Drie, soos dié drietal bekend staan, te onttroon, besef Djokovic dat hul tyd straks binnekort verby gaan wees.

“Ek dink dit is ’n logiese proses. Ek, Roger en Rafa het vir mekaar gesê daar gaan ’n tyd kom dat ons ons plekke moet afstaan, wanneer die nuwe ouens gaan begin Grand Slams wen,” sê Djokovic.

Ek, Roger en Rafa het vir mekaar gesê daar gaan ’n tyd kom dat ons ons plekke moet afstaan, wanneer die nuwe ouens gaan begin Grand Slams wen.
Novak Djokovic

“Ons probeer om daardie soort verandering uit te stel, maar dit is onafwendbaar dat dit gaan gebeur en elke jaar kom hulle nader en nader.

“Dominic Thiem het die afgelope twee jaar in die eindstryd van Roland Garros (Franse Ope) gespeel. (Stefanos) Tsitsipas het die ATP-eindtoernooi gewen.

“Hulle is beslis besig om die beste spelers in die wêreld uit te daag, omdat hulle die beste wil word – iets wat hulle uiteindelik sal word.

“Hulle word reeds onder die voorste vyf en voorste 10 spelers beskou en ons taak is dat hulle nie te vinnig verby dit gaan nie. Maar dit lyk asof hulle nader en nader kom,” sê Djokovic

Tsitsipas, wat nog nooit ’n Grand Slam kon wen nie, het juis vroeër die week gesê hy glo die houvas van die Groot Drie kan gebreek word. – TeamTalk, Sportredaksie

Meer oor:  Novak Djokovic  |  Tennis  |  Roger Federer  |  Rafa Nadal
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.