Hy spog met 12 titels in die Franse Ope en is die ongetwyfelde kleibaankoning, maar tog glo ’n voormalige tenniskampioen dat Novak Djokovic en Dominic Thiem vanjaar vir Rafael Nadal van sy troon kan stamp in Parys.

Kan Novak Djokovic vanjaar ’n tweede Franse Ope-titel verower? Lleyton Hewitt glo so. Foto: Getty Images
Nadal, wat Vrydag in Kaapstad in ’n vertoonwedstryd teen Roger Federer in aksie is, sal weer in Mei as die groot gunsteling by Roland Garros aantree. Tog glo Lleyton Hewitt, voormalige Wimbledon-kampioen, dat Djokovic en Thiem, die finaliste in die pas afgelope Australiese Ope, hom vanjaar opdraande kan gee.
Djokovic het sy 17de Grand Slam-titel in Melbourne gewen nadat hy Thiem in ’n vyfstel-riller geklop het. Thiem het in 2018 en 2019 in die Franse Ope-eindstryd teen Nadal verloor, maar sal sekerlik ook glo dat sy dag binnekort gaan kom in ’n Grand Slam-eindstryd.
“Novak Djokovic kan gewis in Parys wen. Jy moet albei die Australiese Ope-finaliste as sterk aanspraakmakers daar beskou,” het Hewitt in ’n onderhoud met The Mirror gesê.
“Dominic Thiem gaan ’n groot faktor by Roland Garros wees, maar Novak se beweeglikheid op, die wete dat hy al die titel daar gewen het en die feit dat hy so sterk is in vyfstel-wedstryde, maak van hom ’n groot bedreiging,” het Hewitt gesê.
Hoewel Djokovic skitterend op dreef is, is die geskiedenis nie aan sy kant wanneer dit by die Franse Ope kom nie. Sy enigste titel daar was in 2016, toe hy die Brit Andy Murray in vier stelle in die eindstryd verslaan het.
Daardie jaar, 2015 en 2009 is trouens die enigste jare sedert 2005 dat Nadal nie as die kampioen in Parys gekroon is nie.
Djokovic het in 2012 en 2014 teen Nadal vasgeval in die eindstryd, maar het wel een keer, in 2015 se kwarteindronde, met die Spaanse matador afgereken op Roland Garros se rooi klei.
– Sportredaksie, TeamTalk