Novak Djokovic, die wêreld se nr. 1-manspeler, het Woensdag teruggekap oor kritiek op hom oor sy versoeke aan Craig Tiley, die Australiese tennisbaas.
Djokovic sê sy brief aan Tiley oor verslapping van kwaratynmaatreëls, was “goeie bedoelinge” wat “misverstaan” is.

Novak Djokovic op die balkon van sy hotelkamer in Adelaide. Foto: AP
Altesaam 72 spelers is in hul hotelkamers vasgekeer en mag nie buite oefen nie.
Djokovic se versoek vir verminderde kwarantyntydperke en “private huise met tennisbane”, het Aussies erg ontstig.
Tiley het bevestig dit was versoeke en nie eise nie.
“My goeie bedoelinge vir my medespelers is misverstaan as selfsugtig, moeilik en ondankbaar,” sê die Serwiër, wat in Adelaide in kwarantyn is.
“Niks kan verder van die waarheid af wees nie. Soms, as ek terugkyk, vra ek myself of ek nie eerder moet agteroor sit, pleks van aandag gee aan ander mense se worstelinge nie.”
Djokovic, wat verlede jaar sy agtste Aussie Ope-titel gewen het, het onder kritiek van medespelers deurgeloop.
Om nie te kan oefen nie, is regtig nie maklik nie. Niemand bevraagteken die 14 dae van kwarantyn, soos die media berig nie.
Novak Djokovic
Die Serwiër sê hy “gee regtig om” vir sy medespelers.
“Ek het my voorregte op die harde manier verdien. Dit is moeilik vir my om net ’n buitestander te wees, want ek weet hoeveel elke gebaar en goeie woord vir my beteken het,” sê Djokovic.
“Ek gebruik my bevoorregte posisie om tot diens te wees waar en hoe ek benodig word.”
Djokovic sê mediaberigte het handuit geruk.
“Daar was ’n algemene gevoel dat ek – ons spelers – ondankbaar, swak en selfsugtig is oor ons onaangename gevoelens oor kwarantyn,” sê hy.
“Ek is jammer daaroor, want ek weet hoe dankbaar baie spelers is. Ons het hierheen gekom om mee te ding. Om nie te kan oefen nie, is regtig nie maklik nie. Niemand bevraagteken die 14 dae van kwarantyn, soos die media berig nie.” – Reuters