Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Tennis
Djokovic lei aanslag in ATP-beker

Ná ’n suksesvolle buiging in 2020, sal die spantoernooi om die ATP-beker in meer gedempte toestande in Melbourne afslaan, met Novak Djokovic wat die verdedigende kampioen, Serwië, se aanslag op die regte noot teen Kanada sal wil begin.

Novak Djokovic in aksie gedurende ’n oefensessie voor die toernooi om die ATP-beker, wat Dinsdag in Melbourne begin. Foto: Getty Images

Verlede jaar het 24 lande mekaar in Australiese stede in gepakte stadions in dié tennistoernooi die stryd aangesê.

Vanjaar is dit tot net 12 spanne verklein en al die aksie sal weens Covid-19-protokolle beperk wees tot Melbourne Park.

Die aantal toeskouers is boonop tot net 25% van die kapasiteit beperk.

Die kompetisie sal nietemin ’n aanduiding van spelers se peil gee voor volgende week se Australiese Ope, met die meeste van die spelers wat pas 14 dae in kwarantyn deurgebring het.

Djokovic, die wêreld se voorste speler, was manjifiek in 2020 toe hy Serwië tot ’n oorwinning van 2-1 in die eindstryd teen Spanje help voer het.

Dit het ’n oorwinning van 6-2, 7-6(7/4) oor Rafael Nadal ingesluit.

Djokovic sal van meet af aan op sy stukke moet wees met die opwindende Kanadees Denis Shapovalov wat eerste op hom wag in hul Groep A-kragmeting.

Ons sal probeer om aan bewonderaars oor die wêreld heen en dié in Australië ’n goeie vertoning op te dis.
Rafael Nadal

Hierdie herontmoeting van verlede jaar se kwarteindstryd sal sekerlik opwinding verskaf.

Die 21-jarige Shapovalov, wat deur baie kenners as ’n toekomstige Grand Slam-kampioen bestempel word, het toe vir Djokovic gedruk tot ’n valbylpot in die derde stel en sal gretig wees om die bordjies te verhang.

Nadal se kragmeting sal die hoogtepunt van die aandsessie wees by die Rod Laver-arena wanneer hy swaarde kruis met die Australiër Alex de Minaur, ’n jaar nadat hy hom met 4-6, 7-5, 6-1 in die halfeindstryd verslaan het.

“Ons sal probeer om aan bewonderaars oor die wêreld heen en dié in Australië ’n goeie vertoning op te dis,” het Nadal Sondag gesê.

“Ons sal probeer om vir sommige mense, wat swaar leef by die huis, goeie vermaak te verskaf.”

Die Amerikaanse Ope-kampioen, Dominic Thiem, wat verlede jaar vir Djokovic die skrik op die lyf gejaag het in die Australiese Ope se eindstryd, sal die hoogtepunt in die John Cain-arena, wat voorheen as die Melbourne-arena bekend gestaan het, wees.

Die Oostenryker sal Italië se Matteo Berrettini die stryd aansê in Groep C.

Daniil Medvedev, tans vierde op die wêreldranglys, sal ’n sterk Russiese span lei saam met Andrey Rublev. Hy sal die toernooi teen Argentinië se Diego Schwartzman begin in ’n Groep D-stryd.

Duitsland, Griekeland, Frankryk en Japan sal almal Woensdag die eerste keer in aksie wees. – Reuters

Die toernooi om die ATP-beker word daagliks van 00:30 tot 09:30 op SS Grandstand (kanaal 201) en SS Tennis (214) uitgesaai.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.