Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Tennis
Djokovic moes harder gewerk het, sê Becker
Novak Djokovic (links) en Boris Becker bespreek strategie voor ’n wedstryd in die Australiese Ope vanjaar. Foto: Getty Images

Novak Djokovic het sy momentum in die tweede helfte van die tennisseisoen verloor en sy plek as die nommereen-speler in die wêreld aan Andy Murray afgestaan omdat hy nie hard genoeg gewerk het nie.

Dít was Woensdag die verdoemende oordeel van Boris Becker, ’n dag nadat aangekondig is hy sal Djokovic nie langer afrig nie.

Dié besluit is gesamentlik geneem.

Becker meen Djokovic se behoefte om meer tyd saam met sy gesin deur te bring, het teen hom getel op die baan.

“Hy het die afgelope ses maande nie soveel tyd op oefenbane spandeer soos hy moes nie en hy weet dit,” het Becker gesê.

Hy het Djokovic gehelp om ses Grand Slam-titels te verower sedert hulle in Desember 2013 begin saamwerk het.

“Sulke sukses volg nie sommer net as jy ’n knoppie gedruk het nie. Dit volg nie net as jy by ’n toernooi opdaag nie.

“Jy moet jouself afsloof omdat jou teenstanders dit doen,” het Becker aan Sky News gesê.

“Die beroep van ’n tennisspeler is waarskynlik die mees selfsugtige in sport omdat dit net oor jou gaan. Hy is egter die eerste om te sê hy is ’n gesinsman terwyl sy vrou en die res van die gesin eintlik op die agtergrond moes wees.

“Hulle bring nie genoeg tyd saam deur nie. Dit het met my ook gebeur, 20 jaar gelede. Dit is maar hoe dit is as jy ’n tennisspeler is.”

Djokovic het ’n loopbaan-Grand Slam voltooi toe hy in Junie die eerste keer die Franse Ope gewen het, maar sy spel het daarna op verstommende wyse agteruit gegaan.

Die Amerikaner Sam Querrey het hom in die derde ronde by Wimbledon uitgeskakel en hy het in die eerste ronde op die Olimpiese Spele teen die Argentyn Juan Martín del Potro verloor.

Djokovic het daarna die knie in die eindstryd van die Amerikaanse Ope teen Stan Wawrinka gebuig.

Dít was ’n reuse-sielkundige terugslag, sê Becker, wat in sy loopbaan ses Grand Slam-titels gewen het.

“Ek weet die nederlaag in die Amerikaanse Ope teen Stan het hom seergemaak,” het Becker gesê.

“Ek dink miskien hy het op ’n vreemde manier tog nodig gehad om ’n bietjie te verloor, om te weet hoe dit voel om te verloor, omdat hy vir twee en ’n half jaar nie verloor het nie.

“Ek is seker dit sal hom seermaak omdat hy sy nommereen-posisie aan Andy Murray moes afstaan.

“Maar hy moet teruggaan werk toe. Hy moet teruggaan kantoor toe en vir ure oefen en weer fokus op wat hom sterk gemaak het.” – Reuters

Meer oor:  Novak Djokovic  |  Boris Becker
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.