Die meester van Melbourne Park.
Novak Djokovic het Sondag met ’n oortuigende oorwinning in skoon stelle oor Rafael Nadal die mantel van die Australiese Ope by Roger Federer en Roy Emerson oorgeneem.

Novak Djokovic erken die toeskouers se applous met die Norman Brookes-trofeee in sy regterhand. Die Serwiër het Rafael Nadal van Spanje Sondag in skoon stelle in die eindstryd van die Australiese Ope in Melbourne geklop. Foto: Getty Images
Dié 31-jarige Serwiese tennisspeler het met ’n sege van 6-3, 6-2, 6-3 in die eindstryd sy sewende Aussie Ope-titel gewen.
Federer en Emerson was elk ses keer baas in dié Grand Slam-toernooi.
Djokovic se vorige titels in die Aussie Ope was in 2008, 2011, 2012, 2013, 2015 en 2016.
Hy het drie agtereenvolgende Grand Slam-toernooie gewen (ná Wimbledon en die Amerikaanse Ope) en spog nou met altesame 15 Grand Slam-titels..

’n Teleurgestelde Rafael Nadal ná sy nederlaag.Foto: Getty Images
Federer spog met 20 en Nadal met 17.
Sondag se oorwinning was Djokovic se mees oorheersende een ooit oor Nadal in Grand Slam-wedstryde.
Nadal het in die loop van die toernooi nie ’n stel afgestaan nie, maar Sondag vanuit die staanspoor gesukkel om Djokovic baas te raak.
Die wedstryd het net bietjie meer as twee uur geduur.
Die Serwiër het vyf keer op Nadal se afslaan deurgebreek en self net een breekpunt afgestaan.
Hy het die oorwinning met sy tweede wedstrydpunt beklink toe Nadal ’n handrughou te lank geslaan het.
Djokovic het op die baan gekniel, sy vuiste hemelwaarts gebal en gegil van triomf.
Djokovic het met die trofee in sy arms vir ’n paar oomblikke nagedink.
“Ek kan nie my reis van die laaste 12 maande glo nie. Soos Rafa, het ek 12 maande gelede ’n operasie ondergaan,” het Djokovic gesê.
“Om nou hier te kan staan, dié titel te wen en drie van vier Grand Slams te wen is ongeloofklik. Ek is stomgeslaan.”
Sondag was selfs meer vernederend vir Nadal as sy nederlaag in die kwarteindronde van die Franse Ope in 2015, toe Djokovic hom met 7-5, 6-3, 6-1 geklop het.
Tóé het Djokovic die Spanjaard se oorheersing van ses jaar op sy geliefde kleibane beëindig.
Nadal het gesê die laaste twee weke was baie emosioneel. “Al was ek nie vanaand op my beste nie, het my teenstander net soveel beter gespeel,” het die 32-jarige Spanjaard gesê.
“Ek sal aanhou veg en harder werk om volgende keer ’n beter speler te wees.” – Reuters