Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Tennis
Djokovic onder druk om so voort te doen

As Daniil Medvedev vandag die tot dusver onmoont­like regkry en Novak Djokovic in die Australiese Ope-eindstryd troef, sal hy iets vermag wat ’n fel kollig op die Groot Drie se jare lange oorheersing sal laat skyn.

Novak Djokovic in aksie op die blou van die Rod Laver-arena – die Serwiër se eie persoonlike tenniskoninkryk, ná agt titels in 12 jaar. Foto: Reuters

Glorie sal die 25-jarige Rus tot in die top-twee op die wêreldranglys lanseer – ’n plek waar niemand buiten Djokovic, Roger Federer, Rafael Nadal en Andy Murray in byna 16 jaar was nie.

Vir diegene wat nie mooi opgelet het na die onlangse woelinge in manstennis nie, klink dit waarskynlik onwaarskynlik. Maar die feit is dat niemand die afgelope tyd meer amok gemaak het as Medvedev nie, met sy laaste nederlaag in Oktober 2020.

Hy is nou onoorwonne in sy laaste 20 wedstryde – en 12 van daardie seges was teen teen­standers in die toptien op die wêreldranglys. Met die uitsondering van ’n vyfstel-marathon teen Filip Krajinovic in die derde ronde het hy die afgelope twee weke onstuitbaar gelyk. Die twee stelle wat Krajinovic teen hom gewen het, was die enigste wat hy in dié toernooi verloor het.

Die verhaal van Djokovic se toernooi is ’n bietjie anders. Sy derde ronde het ook ’n probleem opgelewer, in die vorm van ’n maagspierbesering wat aanvanklik so erg was dat hy gedink het hy sal moet handdoek ingooi.

As die besering egter een ding help bewys het, is dit dat Djokovic steeds een van die sterkste koppe in wêreldtennis het. Hy het vier mans met daardie seer spier oorkom – volgens hom danksy ’n kombinasie van sterk pynpille en ’n wonderlike fisio­terapeut – en Donderdag ná sy halfeindstryd gesê hy voel weer perdfris en gesond.

Novak Djokovic Foto: Reuters

Enige sprake dat sy besering hom sou terughou, het reeds twee wedstryde gelede verdamp, sodat ons kan aanvaar die derduiwel-Djokovic waaraan ons al die jare gewoond geraak het, sal vir vandag se eindstryd opdaag.

En as dit inderdaad die geval is, wag ’n stryd vir die fynproewers. Aan weerskante van die net gaan immers twee mans staan wat nie hou van verloor nie, wat al die pyle in die koker het wat nodig is om ’n loesing te voorkom en wat uiters goed teen mekaar opweeg.

“Ek dink hulle gaan mekaar doodmaak,” het die Eurosport-ontleder Alex Corretja gister volgens Tennishead gesê.

“Ek verwag ’n baie lang wedstryd, want albei speel met ’n baie soortgelyke styl. Hulle maak albei baie staat op hul afslane en het ongelooflike handrughoue.

“Wat die voorarmhoue betref, beweeg Novak sy gewrig ietwat meer as Daniil s’n, maar nie veel nie. Hulle is soos spieëls vir mekaar en albei wonderlike mededingers.”

Daniil Medvedev Foto: Getty Images

Medvedev het Vrydag so te sê geen tyd verspeel om die druk op Djokovic te probeer laai nie, toe hy dadelik ná sy skoonstel-sege oor Stefanos Tsitsipas gesê het Djokovic het meer om te verloor as hy.

Hy het ’n punt beet. Vir Djokovic raak die moontlikheid om meer Grand Slam-titels as Federer en Nadal se 20 op te stapel ’n al groter moontlikheid. Seëvier hy vandag, sal hy spog met 18, en sal dit binne sig wees.

Dit voel al lankal onafwendbaar dat Djokovic by Federer en Nadal sal verbyskuif. Federer word later vanjaar 40 en is waarskynlik nou verby sy dae van Slams inpalm. Nadal, wat in Mei 35 word, sal sekerlik aanhou bou aan sy totaal, aangesien daar steeds niemand op die horison is wat ’n werklike bedreiging vir sy oorheersing van die Franse Ope is nie. Maar met beserings nou al vir jare ’n gereelde meeloper van Nadal, kan sy loopbaan enige tyd eindig.

Djokovic word in Mei 34, maar is steeds stewig op die kruin van die golf. Hy weet alles dui daarop dat hy meer jare in tennis oor het as Federer en Nadal, maar tog kry ’n mens die gevoel hy wil so gou as moontlik bo hulle op die Slam-lys wees.

Teen die agtergrond daarvan sal ’n nederlaag vandag ’n hele ruk aan hom krap.

Dit sal hom ook seermaak as hy vandag in die Australiese Ope-eindstryd verloor omdat hy ál agt sy vorige Melbourne-titelstryde gewen het. Maar hou in gedagte dat Dominic Thiem hom met ’n bietjie meer geluk in verlede jaar se eindstryd kon ore aangesit het. Daar is altyd ’n eerste keer vir alles – soos Medvedev maar te goed besef.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.