Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Tennis
Novak Djokovic onttrek aan Miami-ope

Die wêreld se voorste tennisspeler, Novak Djokovic, sal sy terugkeer tot die ATP-toer uitstel nadat hy ’n spierbesering opgedoen het en besluit het om nie aan die Miami-ope deel te neem nie om meer tyd saam met sy gesin deur te bring.

Novak Djokovic sal nie aan vanjaar se Miami-ope deelneem nie.Foto: Getty Images

Djokovic het in die eerste week van verlede maand se Australiese Ope ‘n maagspier geskeur, maar ondanks dit voortgegaan om die titel vir ‘n ongeëwenaarde negende keer te wen.

Die 33-jarige het beplan om in Miami te speel voor die Monte-Carlo-meesterstoernooi en die ATP250-reeks se Serwiese Ope.

“Geagte ondersteuners, ek is baie jammer om aan te kondig dat ek nie vanjaar na Miami sal reis om deel te neem nie,” het hy op Twitter gesê.

“Ek het besluit om hierdie kosbare tyd by die huis te gebruik om by my gesin te bly. Met al die beperkings moet ek ’n balans vind in my tyd op toer en by die huis.

“Ek sien uit daarna om volgende jaar weer terug te wees.”

Djokovic, wat sy 18de Grand Slam-titel by Melbourne Park verower het, het op 8 Maart Roger Federer se rekord verbygesteek vir die meeste weke boaan die mans se wêreldranglys toe hy die voorste plek vir die 311ste week beklee het.

Hy het toe gesê dat sy fokus daarop sal wees om majors te wen, en bygevoeg dat hy die nodige aanpassings aan sy skedule sal maak om seker te maak hy kan daardie doelwit bereik.

Rafael Nadal het ook besluit om nie aan die Meesters 1000-toernooi, wat van 22 Maart tot 4 April gehou word, deel te neem nie sodat hy van ’n rugbesering kan herstel.

Federer sal ook afwesig wees terwyl hy nog homself fiks probeer kry ná twee knieoperasies in die afgelope 12 maande.

Die Amerikaanse Ope-kampioen Dominic Thiem gaan ook nie daar in aksie wees nie en sal eers tydens die Europese kleibaan-seisoen weer aan die toer deelneem.

Daniil Medvedev, tans die naasbeste speler ter wêreld, sal wel in Miami uitstap, terwyl Andy Murray ook as ’n promotorskeuse sal deelneem. – Reuters

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.