Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Tennis
Djokovi­c op drafstap deur na laaste 16

Wie gaan vir Novak Djokovic stuit?

Die eerste gekeurde Serwiër het met sy maklike sege van 6-3, 6-3, 6-1 oor die Duitser Jan-Lennard Struff Vrydag die 13de agtereenvolgende keer die vierde ronde in die Amerikaanse Ope in New York gehaal.

Novak Djokovic. Foto: Getty Images

Dit was sy 26ste agtereenvolgende sege in amptelike wedstryde vanjaar, wat die vertoontoernooi om die Adriabeker uitsluit waarin hy wel verloor het.

Die arme Struff. Hy het hom in die eerste ronde van vanjaar se Aussie Ope teen Djokovic vasgeloop en verlede week in die kwarteindstryd met die Western & Southern-Ope weer.

Vrydag het Djokovic net 102 minute benodig.

“Dit was ’n baie goeie vertoning van my kant af. Ek het goed daarin geslaag om sy afslane te lees,” het Djokovic agterna gesê.

“Ek het in die eerste stel ’n nodige deurbraak bewerkstellig nadat ek twee breekpunte teen my in die eerste pot gehad het. Die wedstryd kan maklik anders verloop as jy jou afslaan verloor teen ’n groot ou soos Struff, wat baie goed afslaan en aggressief van die agterbaan speel.

“Ek speel goed die laaste paar weke en het ook goed geoefen. Ek voel baie goed. Ek het goeie selfvertroue op die oomblik wat ek na elke wedstryd vat waarin ek speel.”

Struff het vooraf uitstekend gedien – net Matteo Berrettini (90%) het ’n beter suksessyfer as hy daar op Flushing Meadows gehad.

Djokovic is egter een van die beste spelers as dit by terughoue kom, soos hy gewys het met sy deurbraak in die agtste pot van die eerste stel.

Djokovic het die tweede stel met nog ’n deurbraak begin en hy het ook in die derde stel met deurbrake 3-1 en 5-1 voorgeloop.

Struff kon nie een van sy vier breekpunte benut nie, terwyl Djokovic vyf van sy 11 laat tel het.

Djokovic kom Sondag te staan teen die 20ste gekeurde Pablo Carreno Busta van Spanje, wat in 2017 die halfeindstryd in New York gehaal het.

Djokovic het al drie hul vorige wedstryde gewen.

Die vierde gekeurde Griek Stefanos Tsitsipas het hom vasgeloop teen ’n baie begeesterde Borna Coric van Kroasië, wat hul rillerstryd uiteindelik met 6-7(2), 6-4, 4-6, 7-5, 7-6(4) gewen het om ook die vierde ronde te haal.

Tsitsipas het op 5-4 in die vierde stel afgeslaan vir die wedstryd, maar Coric, wat vroeër met 1-5 agter was in die stel, het dit reggekry om dit met 7-5 te wen en die wedstryd met ’n vyfde stel te verleng.

Die Griek het op 5-5 in die beslissende stel ’n breekpunt verbeur om met 6-5 die voortou te neem.

Die 27ste gekeurde Coric het aan die einde op 6-6 die valbylstryd met 7-4 gewen.

Hy speel nou teen die Aussie Jordan Thompson, wat Kazakstan se Mikhail Kukushkin met 7-5, 6-4, 6-1 geklop het.

Die vyfde gekeurde Alexander Zverev van Duitsland het met ’n sege met 6-7(4), 6-4, 6-2, 6-2 oor Frankryk se Adrian Mannarino ook die vierde ronde gehaal en speel nou teen Alejandro Davidovich Fokina van Spanje, wat die Brit Cameron Norrie met 7-6(2), 4-6, 6-2, 6-1 geklop het.

Kanada se Denis Shapovalov en België se David Goffin het ook die vierde ronde gehaal en speel nou teen mekaar vir ’n plek in die kwarteindstryd.

Die 12de gekeurde Shapovalov het Amerika se Taylor Fritz met 3-6, 6-3, 4-6, 7-6(5), 6-2 geklop, terwyl die sewende gekeurde Belg met 6-1, 7-6(5), 6-4 te goed vir Serwië se Filip Krajinovic was. – Sportredaksie, usopen.org

Meer oor:  Novak Djokovic  |  Tennis  |  Amerikaanse Ope
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.