Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Tennis
Novak sal 25 majors wen, sê McEnroe

John McEnroe meen Novak Djokovic se vermoë om onder druk sy beste spelpeil te haal, gaan hom help om minstens nog vyf Grand Slam-titels te verower.

Novak Djokovic, ’n man op ’n missie. Foto: Getty Images

Die 34-jarige Djokovic het hom Sondag by Roger Federer en Rafael Nadal met 20 Grand Slam-krone aangesluit toe hy vir die sesde keer op Wimbledon geseëvier het.

Die wêreld se voorste speler het die sewende gekeurde Matteo Berrettini op ’n groot dag vir Italiaanse sport in vier stelle met 6-7(4), 6-4, 6-4, 6-3 getroef en ook sy kans om al vier major-toernooie vanjaar te wen, lewend gehou.

McEnroe het ná Djokovic se oorwinning gesê die Serwiër speel beter as ooit.

“Ek dink hy sal minstens nog vier of vyf wen, dit hang net af of hy fiks en gesond kan bly,” sê die Amerikaanse wenner van sewe Grand Slams.

“Hy is sy teenstanders so ver vooruit wat betref sy vermoë om sy doelwit te omarm – om die geskiedenis te herskryf – en om onder druk sy planne ten uitvoer te bring.

John McEnroe sê Djokovic kan nog ‘vier of vyf’ Grand Slams verower. Foto: Getty Images

“Jy poog om alle rekords te verbeter, daar is baie druk. Hy is in staat om in hierdie stadium sy beste tennis te speel. ’n Mens verwag dit sal vir nog ’n paar jaar so voortduur, behalwe as iemand anders na vore tree en besef hoe goed hulle is.”

Djokovic se afrigter, die voormalige Wimbledon-kampioen Goran Ivanisevic, sê die debat oor die beste speler “van alle tye” (GOAT) kan afgehandel word as die Serwiër op die Amerikaanse Ope seëvier en ’n kalender-Grand Slam voltooi.

Die legendariese Aussie-tennisspeler Rod Laver was die laaste man wat al vier majors in een jaar gewen het (1969).

“Hy is die enigste speler wat in dieselfde jaar vier agtereenvolgens kan wen,” sê Ivanisevic.

“As hy die Amerikaanse Ope wen, is die GOAT-debat verby.”

• Djokovic het Sondag gesê hy is onseker oor sy deelname aan die Olimpiese Spele in Tokio.

Djokovic se afrigter, Goran Ivanisevic. Foto: Getty Images

Hy sê hy is “regtig teleurgesteld” om te hoor van die verbod op toeskouers.

“Ek moet daaroor dink. My plan was altyd om in die Spele mee te ding. Maar ek is nou nogal tussen twee gedagtes. Dit is soort van 50-50 na aanleiding van wat ek die afgelope klompie dae gehoor het,” sê hy.

Die organiseerders van die sportskouspel in Japan het verlede week bevestig mense sal weens ’n noemenswaardige toename in koronavirusgevalle verbied word by venues in en rondom Tokio. Daar sal ook vir die duur van die Spele ’n noodtoestand in die hoofstad geld om die koronavirus te bekamp. – Reuters

Meer oor:  Olimpiese Spele  |  Wimbledon  |  Novak Djokovic  |  Tennis  |  Roger Federer  |  Rafael Nadal  |  John Mcenroe
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.