Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Tennis
Djokovic se pa kap ‘jaloerse’ Federer
Jaloesie? Roger Federer en Novak Djokovic by Wimbledon. Foto: Getty Images

Novak Djokovic se pa het ’n buitengewone aanval op die tennisster Roger Federer geloods en die Switser daarvan beskuldig dat hy “jaloers” is op sy seun.

Djokovic, die wêreld se voorste speler, het Federer verlede maand geklop in die halfeindronde van die Australiese Ope op pad na sy 17de Grand Slam-titel – slegs drie agter sy groot teenstander se rekord.

Die Serwiër het boonop ná afloop van sy suksesvolle veldtog in Melbourne erken hy is oorgehaal om Federer se titelrekord in majors binne die volgende twee jaar te troef.

FoxSports berig Djokovic se uitgesproke pa, Srdan, het nou die spelers se wedywering van die baan af gestook deur ’n kishou na Federer te mik in ’n onderhoud met ’n Serwiese koerant.

Srdan het aan Novosti gesê die 38-jarige Switser was jaloers op Novak – ses jaar sy junior – sedert hy op die toneel verskyn het.

“Federer was jaloers op Novak sedert die oomblik wat hy sy deurbraak gemaak het, want hy het besef my seun is beter as hy en dat hy oor hom sou uittroon,” sê Srdan.

“Federer is ’n uitstekende tennisspeler, maar ek kan dit nie sê oor sy menslikheid nie.”

Srdan Djokovic (regs) saam met sy seun, Novak. Foto: Getty Images
Novak Djokovic vier sy sege oor Roger Federer by die Australiese Ope in Januarie. Foto: Getty Images

Djokovic, was verlede week baie diplomaties toe hy gesels het oor sy gevoelens jeens Federer en sy ander groot teenstander, Rafael Nadal.

“Ek lees gereeld dinge wat suggereer dat ek ongeliefd is, maar ek kry werklik nie daardie indruk nie, veral nie van die baan af nie,” het Djokovic gesê toe hy gevra is oor die gebrek aan toeskouers se ondersteuning wanneer hy Federer en Nadal pak.

“Selfs al was dit waar, hoekom sou ek wou petrol op die vuur gooi? Ek wil nie negatiewe emosies aanwakker nie. Ek koester geen kwade gevoelens teenoor mense wat my nie ondersteun nie. Dit gesê, ek is nie trots op sommige van my reaksies op die baan wanneer my passie met tye die oorhand oor my selfbeheersing kry nie.”

Hy sê hy sal altyd erken dat hy foute maak en hy probeer altyd om uit hulle te leer.

“Wat jy saai sal jy maai en dit is nooit my bedoeling om negatiewe energie te skep nie.”

Djokovic sê self dit is ’n feit dat die meeste aanhangers Federer of Nadal teen hom ondersteun.

“Maar dit is as gevolg van wat hulle in wêreldtennis verteenwoordig. Dit beteken nie aanhangers haat my nie en dit beteken beslis nie ek moet Serwië teen die res van die wêreld opsweep net omdat minder mense my in Grand Slam-eindstryde ondersteun nie.”

– Sportredaksie

Meer oor:  Novak Djokovic  |  Tennis  |  Roger Federer  |  Rafael Nadal
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.