Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Tennis
Novak se uiting van emosie wek kommer

’n Gesiene kenner meen Novak Djokovic se ekstreme emosionele uitbarsting ná sy oorwinning in die kwarteindronde van die Franse Ope is moontlik ’n teken van gevaarlike stres.

Novak Djokovic vier sy oorwinning in die halfeindronde op Roland Garros. Foto: Getty Images

Die Serwiese wêreldnommereen het Woensdagaand ná vier stelle en byna vier uur op die baan met Matteo Berrettini van Italië afgereken en met ’n woeste geskreeu uiting aan sy emosies gegee.

“Dit was uitsonderlik en baie kommerwekkend,” sê die tennisaanbieder en voormalige Britse speler Annabel Croft, berig tennis365.

“Dit wys ons wat spelers deurmaak op die baan, maar dit kan nie goed wees om so gespanne te wees nie.

“Ek was nogal omgekrap om te sien hoe ontsteld hy was. Dit kan nie goed vir enigiemand wees om emosies soos hierdie te beleef nie.”

Dit is nie vreemd vir Djokovic om aan sulke uiterste emosies uiting te gee nie. Hy het al voorheen geskreeu, luidkeels gejuig en selfs sy hemp geskeur nadat hy kragmetings gewen het.

Maar hierdie geval – in ’n leë stadion weens Parys se aandklokreël – was opvallend, veral omdat dit so in teenstelling met die omgewing was.

“Mense besef nie hoe stresvol tenniswedstryde is nie,” sê Croft.

“Hulle is almal baie dapper om hulself daardeur te sit.”

Die Britse tenniskenner Annabel Croft. Foto: Getty Images

• Boris Becker glo die jong Turke Stefanos Tsitsipas en Alexander Zverev “trek nou byna gelyk” met Rafael Nadal en Djokovic.

Volgens die Duitse wenner van ses Grand Slam-titels is Nadal steeds die gunsteling om vanjaar by Roland Garros sy 14de Frans Ope-kroon te verower, maar hy sê “opvolgers sal na vore tree”.

Vrydag se halfeindstryde word beslis tussen Griekeland se Tsitsipas en Zverev van Duitsland, terwyl Nadal en Djokovic mekaar vir die 58ste keer pak.

Rafael Nadal ‘kan nie vir ewig in Parys oorheers nie’, meen Boris Becker. Foto: Getty Images

“Ek is nie heldersiende nie, maar die gunsteling is steeds Nadal. Dit het nie verander nie. Ons sal egter ’n punt bereik waar die opvolgers na vore tree,” sê Becker in sy ontleding vir Eurosport.

“Nadal kan nie vir ewig in Parys oorheers nie. Ek kan ook insien dat Djokovic so ’n toernooi kan wen, maar Tsitsipas en Zverev is nou byna gelyk aan hulle. Ek dink dit is eenvoudig ’n kwessie van tyd.”

Djokovic het 29 kragmetings teen Nadal gewen en 28 verloor, maar die Spanjaard het in sewe van hulle agt wedstryde by die Franse Ope geseëvier.

Tsitsipas en Zverev gaan mekaar vir die agtste keer aanpak, en die Griek het die Duitser in vyf van hul vorige kragmetings geklop. – Sportredaksie

Meer oor:  Novak Djokovic  |  Tennis  |  Boris Becker  |  Rafael Nadal
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.