
Novak Djokovic het Saterdagoggend (SA tyd) vir Roberto Bautista Agut met 4-6, 6-4, 7-6 getroef. Foto: Getty Images
Novak Djokovic het Saterdagoggend (SA tyd) met die Spanjaard Roberto Bautista Agut klaargespeel in ’n spannende wedstryd om sy plek in die eindstryd van die Western & Southern-ope in New York te bespreek.
Dinge het nie deurlopend volgens plan vir die Serwiër verloop nie.
Hy het die eerste stel met 4-6 verloor, voordat hy die tweede met 6-4 gewen het om die derde en beslissende stel af te dwing.
Bautista Agut het vroeg die voortou geneem in die laaste stel met 2-1, voordat Djokovic vlamgevat het en foute afgedwing het om met 5-2 voor te loop.
Die voorste speler op die wêreldranglys het egter toe self ’n rits foute begaan en die Spanjaard, wat agtste gekeur is, toegelaat om vas te klou en vier agtereenvolgende potte te wen om aan hom ’n gulde geleentheid te gee om Djokovic te verras.
Dit is hier wat die Serwiër toe egter sy klas gewys het.
Djokovic het terug gebreek en in ’n merkwaardige aanslag diep gedelf om 10 uit die laaste 11 punte te wen, insluitend die valbylpot wat hy met 7-0 beklink het.
Hy sal nou in Saterdag se eindstryd teen die Kanadees Milos Raonic te staan kom.
Raonic sal in sy eerste ATP-eindstryd wees sedert 2018 en hoop om sy eerste titel te wen.
Die Kanadees het in sy halfeindstryd vir Stefanos Tsitsipas met 7-6 (7/5), 6-3 geklop in 1 uur en 37 minute om die uitslag tussen die twee by die Australiese Ope in Januarie na te doen.
Beserings het Raonic in die afgelope drie jaar gereeld gekelder, maar ook tyd gegee om aan sy spel te skaaf en weer ’n aanspraakmaker op groot titels te word.
Raonic het sy afslaan oorheers teen die Griek en die eerste stel gered nadat hy 5-6 agter was.
Tsitsipas het self nie sleg gespeel nie en vir homself die geleentheid gegee om die eerste stel te beklink voordat hy vir ’n paar minute sy fokus verloor het en vir Raonic tyd gegee het om terug te baklei. – Sportredaksie