Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Tennis
Djokovic stoomroller Raonic

Die Djokovic-trein stoom voort in Melbourne. En dit raak al moeiliker om te sien hoe dit ontspoor sal word.

Novak Djokovic het die halfeindronde van die Australiese Ope Dinsdag vir die agtste keer in sy loopbaan gehaal deur die gevaarlike Kanadees Milos Raonic in skoon stelle van die baan te vee.

Novak Djokovic bevind hom vir die agtste keer in sy loopbaan in die halfeindronde van die Australiese Ope. Foto: Getty Images

Hy het met 6-4, 6-3, 7-6 (7/1) koning gekraai om sy strewe na ’n agtste Australiese Ope-titel lewend te hou.

Dit is welbekend dat die Aussie Ope Djokovic se gunsteling Grand Slam-toernooi is – en met goeie rede ook. By elke vorige geleentheid wat hy verby dié Slam se kwarteindronde gevorder het, is sy naam ’n paar dae later op die Norman Brookes-gedenktrofee gegraveer.

As iemand anders dit dus hierdie keer wil hê, sal hulle gróót geskiedenis moet omkeer. Djokovic verloor nie in Melbourne in halfeind- of eindstryde nie.

Die sewemalige kampioen het Dinsdag uit die staanspoor die wêreld warm gemaak vir Raonic, en oor die loop van die wedstryd 16 breekpunte bewerkstellig. Merkwaardig genoeg kon hy net twee daarvan benut, hoewel dit meer van die Kanadees se veghond-benadering as Djokovic se onvermoë sê.

Raonic het met ’n aggressiewe, alles-of-niks-benadering op die baan gestap, maar kon sy Serwiese teenstander nie daarmee hinder nie. Hy het wel hope meer wenhoue as Djokovic geslaan – 48 teenoor 29 – maar uit frustrasie met die Serwiër se ondeurdringbaarheid ook hope meer ongedwonge foute gemaak: 48 teenoor 14.

Dit het ook nie die Kanadees se bui gehelp toe Djokovic op 4-4 in die derde stel van die baan gegaan het om sy kontaklense te verander nie.

Djokovic het aangevoer hy kan nie Raonic se afslane sien nie, waarop die Kanadees volgens Fox Sports geantwoord het: “Ek dra nie kontaklense nie, maar ek kan sê ek dra lense net om van die baan te gaan.”

Djokovic het later vir Raonic en die skare jammer gesê en benadruk: “Dit was nie met opset of takties nie.”

Die kampioen se oorwinning verseker nou ’n halfeindronde wat op papier watertandlekker is. Djokovic sal te staan kom teen die sesmalige Australiese Ope-kampioen Roger Federer, wat vroeër Dinsdag sewe wedstrydpunte teen die Amerikaner Tennys Sandgren afgeweer het om in vyf stelle te seëvier.

Gemeet aan die duo se onderskeie vertonings Dinsdag is die waarskynlikste scenario in die halfeindronde eenrigtingverkeer, en nog ’n eindstryd vir Djokovic.

Dis in elk geval hoe die beroepswedders dit sal sien.

Meer oor:  Australiese Ope  |  Novak Djokovic
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.