Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Tennis
Djokovic-stryd kelder Agut se ramparty

Roberto Bautista Agut moes sy planne om ’n week lange rampartytjie op die eiland Ibiza te hou, kanselleer nadat hy op verrassende wyse tot die halfeindronde van die Wimbledon-tennistoernooi deurgedring het.

Roberto Bautista Agut het vanjaar sy eie verwagtinge op Wimbledon ver oorskry. Foto: Getty Images

Dié 31-jarige Spanjaard, wat in November trou, het voorheen nog nooit verder as die vierde ronde by die All England-klub gevorder nie en het derhalwe lankal planne gemaak om dié week die laaste stuiptrekkings van sy lewe as ongetroude man te vier.

“Ek het beplan om nou in Ibiza te wees,” het die 23ste gekeurde Woensdagaand ná sy oorwinning oor die Argentyn Guido Pella aan verslaggewers gesê.

“Alles was gereël. Ses van my vriende is reeds daar. Hulle gaan nou Londen toe kom. Ek dink hulle sal Vrydag vlieg, het die boorling van Castellon gesê.

Hulle sal ’n vroeë vlug moet haal, want Bautista Agut het Vrydagmiddag ’n afspraak met die topgekeurde Novak Djokovic.

Eerder as om hom oor sy volgende mengeldrankie op die strand te bekommer, moet hy nou planne beraam om die wêreld se nommereen-speler tot oorgawe te dwing.

Dié taak sal baie spelers ontsenu, maar Bautista Agut sal baie selfvertroue put uit die feit dat hy vanjaar reeds twee keer met Djokovic afgereken het.

Dis nietemin ’n groot oomblik vir Bautista Agut, want in ’n beroepsloopbaan wat reeds oor 14 jaar strek, sal dit sy eerste verskyning in die halfeindronde van ’n Grand Slam-toernooi wees.

“Ek het al daardie jare hard gewerk om ’n beter speler te word, om elke oomblik te dink aan hoe ek kan verbeter. My doel was nie om hulle (Djokovic, Roger Federer en Rafa Nadal) in te haal nie, maar om die gaping te laat krimp,” het hy gesê.

Die ander twee lede van die Groot Drie, Federer en Nadal, pak mekaar in die ander halfeindstryd.

Toe Roger Federer (links) en Rafael Nadal laas by Wimbledon slaags was, was Federer 26 jaar oud en Nadal ’n jeugdige 22. Foto: Getty Images

Nadal het onlangs in die halfeindronde van die Franse Ope maklik met Federer afgereken, maar dít was op sy gunsteling-oppervlak, klei.

Op gras is Federer natuurlik ’n perd van ’n ander kleur, soos sy agt enkelspeltitels op Wimbledon van getuig.

Dit sal egter die eerste keer sedert die 2008-eindstryd wees dat Federer en die Spaanse matador op Wimbledon rakette kruis.

Nadal het daardie jaar ’n epiese eindstryd in vyf stelle gewen. Dit was soete wraak nadat Federer hom in 2007 – ook in vyf stelle – asook in 2006 (in vier stelle) in die eindstryd geklop het.

In alle wedstryde teen Federer loop Nadal met 24 oorwinnings teenoor 15 voor.

Reuters, Sportredaksie

Meer oor:  Wimbledon  |  Tennis  |  Roberto Bautista Agut
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.