Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Tennis
Donder en blits tussen Bertens en Errani

Die weergode het Parys, Frankryk, Woensdag minder as op die eerste drie dae van vanjaar se Franse Ope gepla – maar dit beteken nie Roland Garros is storms gespaar nie.

Inteendeel was daar donder en bliksem op Baan 14 soos die tenniswêreld lanklaas aanskou het.

Die Nederlander Kiki Bertens moes Woensdag in ’n rolstoel van die baan gestoot word ná haar oorwinning oor Sara Errani. Foto: Getty Images

Die rekordboeke sal aandui dat die vyfde gekeurde Kiki Bertens op daardie stuk aarde met 7-6(5), 3-6, 9-7 oor die voormalige Franse Ope-finalis Sara Errani geseëvier het – maar dié wedstryd kan nie met ’n blote datum en wentelling opgesom word nie.

In ’n kragmeting wat 49 breekpunte opgelewer het (30 vir Bertens en 19 vir Errani) het albei spelers 12 keer op haar teenstander se afslaan deurgebreek. Wisselvallige afslane was aan die orde van die dag, en het Errani – wat drie keer vir die wedstryd afgeslaan het en een wedstrydpunt verbrou het – se senuwees weldra aan flarde gehad. Die skeidsregter moes haar meer as een keer waarsku om minder tyd tussen afslane te neem, en in een rampspoedige wedstryd kon sy nie ’n enkele wettige afslaan afstuur nie.

Die wedstryd het meer as drie uur geduur en Bertens het laat in die derde stel begin sukkel met krampe. Aan die anderkant van die net het Errani skynbaar in een stadium daarmee gespot, maar sy het niks gehad om oor te spot toe sy uiteindelik die wedstryd verloor nie.

Inteendeel het dit net gedien om Bertens se dapperheid en veggees te onderstreep. Toe sy ná 191 minute uiteindelik die wenhou slaan, het sy tot ’n bondeltjie op die baan verkrummel, en moes sy betraand en in ’n rolstoel van die rooi klei gestoot word.

Sara Errani het Kiki Bertens ná die wedstryd daarvan beskuldig dat sy nie regtig so swaar gekry het as wat dit gelyk het nie. Foto: AP

Errani het met ’n rits skelwoorde weggestorm sonder om Bertens vir die wedstryd te bedank. Later het sy volgens Eurosport gesê sy glo nie Bertens het regtig soveel pyn gehad soos dit voorgekom het nie.

“Ek hou nie daarvan wanneer iemand met my ‘speel’ nie,” het sy gesê. “Sy het ’n wonderlike wedstryd gespeel, maar ek hou nie van die situasie nie. Een oomblik is sy beseer, maar dan hardloop sy soos nog nooit.

“Sy is van die baan af in ’n rolstoel en nou is sy perfek in die kleedkamer en in die restaurant. Ek hou nie van sulke dinge nie.”

Bertens, wat in die derde ronde te staan sal kom teen Katerina Siniakova, het geen simpatie vir Errani gehad nie.

“Sy het haar kanse gehad en dit nie gevat nie,” het sy gesê.

• Minder as drie weke nadat sy die eindstryd van die Amerikaanse Ope gehaal het, is Victoria Azarenka Woensdag met mag en geweld terug aarde toe gebring.

Azarenka, die tiende gekeurde, het die aftog ná net twee rondes van die Franse Ope geblaas ná ’n lustelose vertoning in haar kragmeting met die Slowaak Anna Karolina Schmiedlova.

Schmiedlova, wat net 161ste op die wêreldranglys is, het die Belo-Rus met 6-2, 6-2 verneder. Die wedstryd was binne 102 minute verby.

Die 31-jarige was vanuit die staanspoor op die agtervoet, nadat sy die wedstryd se eerste pot met ’n dubbelfout verloor het. Sy kon nooit haar peil lig nie. Teen die einde van die wedstryd was daar 31 ongedwonge foute agter haar naam, teenoor net 16 wenhoue.

Schmiedlova speel met ’n beskermde wêreldranglys-posisie nadat sy in 2019 deur ’n knieoperasie uit aksie gedwing is, en is in aksie in slegs haar tweede toernooi sedert Maart. En tog het sy nou in Parys reeds twee groot visse ingekatrol. Sy het die 40-jarige Venus Williams Maandag in skoon stelle uitgeskakel.

Die toernooi se eerste gekeurde, Simona Halep, het min moeite gehad om haar Roemeense landgenoot Irina-Camelia Begu met 6-3, 6-4 te verslaan. Ook die derde gekeurde Elina Svitolina is veilig in die derde ronde, ná ’n wipplank-sege van 6-3, 0-6, 6-2 oor Renata Zarazua van Mexiko.

Dag 4 het egter die einde van die pad vir Serena Williams beteken. Williams het haar voor haar wedstryd teen die Bulgaar Tsvetana Pironkova aan die toernooi onttrek weens ’n Achilles-besering.

UITSLAE
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.