Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Tennis
Driekuns wink vir Roger en Rafa-hulle

John McEnroe se Wêreldspan sal hoop dis derde keer skeepsreg in die derde weergawe van die Laverbeker-spankompetisie teen die Europese span, wat die naweek in Genève, Switserland, beslis word.

Suid-Afrika se Kevin Anderson moes weens sy kniebesering onttrek en op papier word die Wêreldspan, met vyf spelers van Noord-Amerika en twee Aussies, nie veel van ’n kans gegun nie.

Switserland se Roger Federer van die Europese span voor die stryd om die Laverbeker wat die naweek beslis word. Foto: Getty Images

Die Europese span se spelers is immers almal onder die voorste 11 spelers die wêreldranglys.

Die tuisspan van Bjorn Borg spog natuurlik ook met twee van die topdriespelers – Switserland se tenniskoning Roger Federer en die Spaanse superster Rafael Nadal – wat saam met 39 Grand Slam-titels tussen hulle spog.

John Isner, in die 20ste plek, is die Wêreldspan se voorste speler op die ranglys. Sy landgenoot Jack Sock en die Aussie Nick Kyrgios was ook in die twee vorige kompetisies betrokke.

Federer en Alexander Zverev sal ook vir ’n derde keer vir die sterk Europese span beskikbaar wees.

Europa het in 2017 in Praag met 15-9 gewen en verlede jaar in Chicago met 13-8.

McEnroe wys daarop dat hulle nog altyd die botoon (5-1) gehad het wat die dubbelspelstryde betref en dat hy boonop wéér op Sock kan steun.

Roger Federer neem ’n selfie van die Europese span voor die stryd om die Laverbeker wat die naweek beslis word. Voor is Rafael Nadal en Fabio Fognini. Agter staan Stefanos Tsitsipas, Dominic Thiem en Alexander Zverev. Foto: Getty Images

Sock, met drie Grand Slam-dubbelspeltitels agter sy naam, was nog net een keer aan die verloorkant in ses dubbelwedstryde waarin hy in die kompetisie betrokke was. Dít was in 2017 saam met Sam Querrey teen Federer en Nadal.

Met Anderson nie meer daar vir die Wêreldspan nie is Kanada se Milos Raonic en Amerika se Taylor Fritz die eerste keer betrek.

Op elk van die drie dae word daar vier wedstryde – drie enkelspelwedstryde en ’n dubbelspelwedstryd – beslis.

Dominic Thiem van Oostenryk pak Kanada se Denis Shapovalov in Vrydag se eerste wedstryd.

Italië se Fabio Fognini is in die tweede wedstryd met Sock slaags, terwyl Stefanos Tsitsipas van Griekeland in die eerste wedstryd van die aandsessie teen Fritz speel.

Die Europese span wat in die stryd om die Laverbeker die naweek in Switserland speel, van links is, Stefanos Tsitsipas, Fabio Fognini, Rafael Nadal, Bjorn Borg (spankaptein), Roger Federer, Dominic Thiem en Alexander Zverev. Foto: Getty Images

Federer en Zverev sluit die eerste dag af met ’n dubbelspelwedstryd teen Sock en Shapovalov.

Saterdag se program sal eers daarna bekend gemaak word.

Elke speler sal minstens een enkelspelwedstryd in die eerste twee dae speel en nie een sal in meer as twee in die naweek speel nie. Minstens vier van die ses spelers moet in ’n dubbelspelwedstryd speel.

Wedstrydseges sal op die eerste dag een punt werd wees, twee op die tweede dag en drie punte op die derde

dag. Die eerste span met 13 punte uit ’n moontlike 24 punte wen die kragmeting. As dit 12 elk is, sal ’n dubbelspelstryd die wenner bepaal.

Europa: Rafael Nadal, Roger Federer, Dominic Thiem, Alexander Zverev, Stefanos Tsitsipas, Fabio Fognini, Roberto Bautista Agut (plaasvervanger)

Wêreldspan: John Isner, Milos Raonic, Nick Kyrgios, Denis Shapovalov, Jack Sock, Taylor Fritz, Jordan Thompson (plaasvervanger)

Bykomende bronne: tennis.com, lavercup.com

Meer oor:  Roger Federer  |  Laverbeker  |  John Mcenroe  |  Rafa Nadal
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.