Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Tennis
Droombegin aan Federer se seisoen

Roger Federer se tennisseisoen kon beswaarlik op ’n beter wyse begin het, met sy vingerafdrukke ná slegs ses dae van die nuwe jaar terug op die Hopmanbeker.

Federer het Switserland Saterdag gehelp om vir die eerste keer sedert 2001 koning te kraai in die Hopmanbeker-toernooi in Perth. Hy en sy landgenoot, Belinda Bencic, het die eindstryd teen Duitsland met 2-1 gewen.

Roger Federer en sy Switserse landgenoot Belinda Bencic pronk gister met die Hopmanbeker.Foto: Getty Images

Federer het sy enkelspelwedstryd teen die indrukwekkende jongeling Alexander Zverev met 6-7 (4), 6-0, 6-2 gewen om sy span met 1-0 te laat voorloop.

Anqelique Kerber het sake egter gou daarna gelyk gemaak met ’n gemaklike sege van 6-4, 6-1 oor Bencic.

Dit sou die organiseerders baie gelukkig gemaak het dat die gemengde dubbelspelwedstryd daarna die kampioen sou bepaal. Federer en Bencic het dié kragmeting met 4-3 (3), 4-2 gewen om die trofee te lig.

Dit is Federer se tweede Hopmanbeker-titel vir Switserland. Hy was ’n jong, opkomende ster toe hy en Martina Hingis die eindstryd in 2001 teen Amerika se Monica Seles en Jan-Michael Gambill gewen het.

“Ná al die jare kan ek nie glo ek is weer hier nie. Dit is net ongelooflik. Ek het tred verloor met die jare. Ek is net so bly om saam met Belinda weer die Hopmanbeker te kon wen,” het Federer volgens die toernooi se amptelike webtuiste gesê.

Bencic het Duitsland gelukgewens met hul veldtog.

“Julle het ’n puik toernooi gehad. Angie, jy was te sterk vir my vandag. Ek is baie bly ons kon die gemengde dubbelspel wen.”

“Dankie aan Roger dat jy saam met my gespeel het. Dit is regtig ’n droom wat waar geword het en ek kon nie vir ’n beter spanmaat vra nie.”

Dit was egter nie die heeltyd maklik vir Federer nie. In sy enkelspelwedstryd teen Zverev het hy vir ’n stelpunt in die 11de pot van die eerste stel gespeel, maar Zverev het vasgebyt om sy afslaanpot te wen. Die jong Duitser het daarna die valbylpot gewen om die eerste stel agter sy naam te skryf.

Federer se ervaring en temperament het in die tweede stel die verskil gemaak. Zverev het ’n waarskuwing gekry toe sy humeur opgevlam het en hy sy raket na sy stoel gegooi het. Dit het gevolg nadat die Switserse meester op sy afslaan deurgebreek het om met 3-0 voor te loop. Daarna was dit eenrigtingverkeer.

Federer het in Perth bewys daar skort niks met sy spelpeil nie. Hy het al vier sy enkelspelwedstryde gewen en dié 19-malige Grand Slam-kampioen moet beslis as die gunsteling gereken word vir die Australiese Ope, wat op 15 Januarie begin.

Switserland se enigste ander titel was in 1992, toe Manuela Maleeva-Fragniere en Jakob Hlasek die eindstryd teen Tsjeggië se Helena Suková en Karel Novácek gewen het.

Duitsland se lang titeldroogte duur voort. Boris Becker en ­Anke Huber het in 1995 laas die titel vir die Duitsers gewen. Duitsland se eerste titel was in 1993, toe Steffi Graf en Michael Stich die beker gewen het.

Die Duitsers moes in 1994 ook met die tweede plek tevrede wees.

Meer oor:  Hopmanbeker  |  Roger Federer  |  Belinda Bencic  |  Seisoen
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.