Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Tennis
Raven verloor twee keer op een dag
Raven Klaasen in 2019 by Wimbledon in aksie. Foto: Getty Images

Die Suid-Afrikaner Raven Klaasen se betrokkenheid by Wimbledon vanjaar is verby.

Hy het Woensdag eers in die kwarteindronde van die mans se dubbelspelkompetisie verloor, waarna hy in die ronde van 16 in die gemengde dubbelspel ook die aftog geblaas het.

Die 38-jarige Klaasen en sy Japannese dubbelsmaat Ben Mclachlan (die 14de gekeurdes) het hulle teen Italië se Simone Bolelli en die Argentyn Maximo Gonzalez vasgeloop. Die ongekeurde paar was baas met 7-6(0), 6-4, 6-3.

Bolelli-hulle het hul sege gebou op uitmuntende afslaanwerk. Die duo het 90% van die punte op hul eie afslaan gewen en in ’n stadium selfs op die tweede afslaan oorheers. In die tweede stel het hulle byvoorbeeld al agt die punte op hul tweede afslaan gewen, en net twee op die eerste afslaan verloor.

Klaasen en Mclachlan is die kwarteindronde stert in die lug binne nadat hulle Maandag ’n marathon van meer as vier ure oorleef het om die Fransmanne Jeremy Chardy en Fabrice Martin in vyf stelle uit te skakel, maar teen die Italiaans-Argentynse duo kon hulle Woensdag nie soortgelyke hoogtes bereik nie.

Bolelli en Gonzalez was bedag op elke truuk wat Klaasen-hulle uitgehaal het en het self ’n tas vol toertjies saamgeneem baan toe. Ná nie een van die pare ’n breekpunt in die eerste stel kon bewerkstellig nie, het die ongekeurdes uiteindelik daardie tas oopgemaak en al sewe die punte van die valbylpot gewen.

Daarna het ’n tweede stel gevolg waarin hulle nie net onpriembaar in hul eie afslaanpotte was nie, maar deurgaans ’n bedreiging wanneer hul teenstanders gedien het. Hulle het vroeg in die stel deurgebreek en nie weer teruggekyk nie.

Hoewel daar teoreties daarna nog ’n pad terug was vir Klaasen-hulle, was die hek prakties bottoe. Die SA-Japan-duo het al vier die derde stel se eerste potte verloor, en eers teen die einde, toe hul teenstanders se senuwees meer begin knaag het, op die telbord gekom.

Met sy deelname verby in die mansdubbelspel moes Klaasen vinnig sy aandag verskuif na die gemengde dubbelspel, waarin hy en die 37-jarige Kroaat Darija Jurak (10de gekeur) teen Chardy en die Brit Naomi Broady te staan gekom het.

Chardy-hulle was egter te sterk en het die wedstryd met 6-3,7-5 gewen.

Die halfeindronde van die vroue-enkelspel word intussen Donderdag by Wimbledon beslis.

In die een halfeindstryd kom die topgekeurde Australiër, Ash Barty, teen die Duitser Anqelique Kerber (25ste gekeur) te staan.

Karolina Pliskova van die Tsjeggiese Republiek (8) en Aryna Sabalenka van Belarus (2) is in die ander halfeind slaags.

* Die berig is aangepas nadat Klaasen se gemengde dubbelspel-stryd voltooi is.

Meer oor:  Raven Klaasen  |  Wimbledon  |  Tennis
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.