Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Tennis
Elina in halfeind na sy wéér Jo se tjank aftrap
Die vyfde gekeurde Elina Svitolina van Oekraïne is in ekstase nadat sy die Brit Johanna Konta Dinsdag in die Amerikaanse Ope uitgeskakel het om die halfeindronde te bereik.Foto: Getty Images

Die vyfde gekeurde Elina Svitolina van Oekraïne het haar eerste Grand Slam-tennishalfeindstryd gehaal toe sy Dinsdag die Brit Johanna Konta in die Amerikaanse Ope in New York uitgeskakel het.

Die 24-jarige Svitolina se oorwinning van 6-4, 6-4 oor die 16de gekeurde Brit in die kwarteind, het haar die eerste vrou in vanjaar se halfeindronde gemaak.

Dit was haar vyfde oorwinning op ’n streep teen Konta, wat haar nog nie voorheen kon klop nie.

Svitolina, wat die laaste twee jaar die vierde ronde in die Ope gehaal het, het vooraf nie ’n enkele stel op Flushing Meadows verloor nie.

Sy het in haar vierde Grand Slam-kwarteindstryd seker gemaak sy neem dit ’n treetjie verder.

Sy het in haar vierde Grand Slam-kwarteindstryd seker gemaak sy neem dit ’n treetjie verder.

Konta, wat al die halfeind in die Australiese Ope én Wimbledon gehaal het, sal kan aanvoer sy was met tye vir haar eie ondergang verantwoordelik. Haar 35 ongedwonge foute vertel die verhaal.

’n String ongedwonge foute deur ’n duidelik angstige Konta, die eerste Brit in 36 jaar wat die kwarteind in New York bereik het, het Svitolina die eerste deurbraak van die wedstryd op ’n skinkbord gegee.

Konta het mooi teruggeveg net om haar daaropvolgende afslaan weer te verloor.

Die verskil in die eerste stel was Konta se 15 ongedwonge foute teenoor die agt van Svitolina. Die speler van Oekraïne het ook daarin geslaag om 11 van haar tweede afslane (69%) in die eerste stel te wen. Sy het die stel in 49 minute beklink.

Konta kon nie voortbou op die effense oplewing wat sy aan die einde van die eerste stel getoon het nie.

Die tweede stel was ’n herhaling van die eerste, met Svitolina wat wéér eerste bloed geruik het.

Sy het weer twee afslaanpotte agtereenvolgens van Konta gewen en een tussenin verloor en op die ou einde in ’n uur en 40 minute geseëvier.

Rafael Nadal is steeds stewig op koers in die Amerikaanse Ope.

Rafael Nadal het Tiger Woods as ’n “ongelooflike inspirasie” beskryf nadat die gholfster hom Maandag luidkeels vanuit die paviljoen ondersteun het.

Die wenner van 18 Grand Slam-titels het met sy oorwinning van 6-3, 3-6, 6-1, 6-2 teen die Kroaat Marin Cilic vir die 40ste keer die kwarteindronde van ’n major-toernooi bereik.

Maar dit was egter Woods – wenner van 15 major-gholftitels – se reaksie ná ’n reeks sensasionele Nadal-wenhoue op ’n kritieke tydstip in die kragmeting wat die aandag in die Arthur Ashe-stadion getrek het.

“Sy ondersteuning beteken vir my baie,” het Nadal gesê.

“Hy is ’n ongelooflike inspirasie. Alles wat hy al in sy sport vermag het, die wyse waarop hy aanhou baklei het.

“Hy is vir my ’n voorbeeld, ’n aansporing om op die gholfbaan dop te hou. Die feit dat hy my ondersteun en dat ons gereeld kontak behou, is iets wat my baie bly maak en ek hoop ons kan eendag saam gholf en tennis speel.”

Nadal, wat soos Woods in sy loopbaan deur verskeie beserings geteister is, lyk fiks en honger op Flushing Meadows, waar sy visier op ’n vierde Amerikaanse Ope-titel gerig is, berig supersport.com.

“Dit is onmoontlik om die emosies te beskryf wanneer ek hier speel,” sê hy.

“Ek is lief vir die sport en voel baie bevoorreg om steeds hier te kan meeding. Ek het agt jaar gelede getwyfel of ek nog sou kon tennis speel, want my liggaam het erg gely.

Dit is ’n groot eer om voor julle almal en voor Tiger te kan speel. Ek sê altyd ek het nie groot helde nie, maar hy is een van my helde.
Rafael Nadal

“Dit is ’n groot eer om voor julle almal en voor Tiger te kan speel. Ek sê altyd ek het nie groot helde nie, maar hy is een van my helde en ek probeer hom altyd volg.”

Woods het in 2018 suksesvol teruggekeer na mededingende gholf en die Toerkampioenskap gewen nadat hy die vorige twee jaar weens ’n rugbesering buite aksie was.

Tiger Woods het Maandag geen geheim gemaak wie hy by die Amerikaanse Ope ondersteun nie. Foto: Getty Images

Hy het in April sy 15de major in die Amerikaanse Meesters beklink, sy eerste groot oorwinning sedert die Amerikaanse Ope in 2008.

“Dit is ’n groot plesier om hom hier te hê, hy is een van die grotes in sport en ek wil hom gelukwens op ’n ongelooflike terugkeer,” sê Nadal, wat meen sy vermoë met ’n gholfstok steek sleg af teenoor sy vernuf met ’n tennisraket.

“Dit is baie beter as Tiger nie my gholfswaai sien nie, dit sal hom miskien daarna ’n bietjie van sy ritme kos.”

Die moontlikheid is groot dat Nadal en sy grootste teenstander, Roger Federer, mekaar in die eindstryd pak.

Dit sal hul eerste wedstryd in New York wees.

Meer oor:  Tiger Woods  |  Elina Svitolina  |  Johanna Konta  |  Rafael Nadal  |  New York  |  Flushing Meadows  |  Tennis  |  Grand Slam
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.