Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Tennis
Europa maak dit 3 uit 3 in Laverbeker
Alexander Zverev Foto: Getty Images

Alexander Zverev het Sondag in Genève met die super-valbylpot van die laaste en beslissende wedstryd van die kragmeting met Milos Raonic die Europese tennisspan die Laverbeker ’n derde agtereenvolgende jaar laat lig.

Die Wêreldspan het voor dit met 11-10 in dié kragmeting voorgeloop. Oorwinnings op die laaste dag was elk drie punte werd.

Die spanning het tot die einde hooggeloop toe die Duitser Zverev (6de op die wêreldranglys) Kanada se Raonic (24ste) met 6-4, 3-6, 10-4 geklop om dit 13-11 vir Europa te maak.

Toeskouers was vroeër teleurgesteld met die nuus dat die liplekker-tweestryd tussen Spanje se Rafael Nadal en die omstrede Aussie Nick Kyrgios gekanselleer is.

Nadal kon weens ’n polsgewrigbesering nie Sondag verder vir Europa deelneem nie.

Hy sou Sondag teen Kyrgios in sy tweede enkelspelwedstryd gespeel het en en ook saam met Roger Federer in ’n dubbelspelstryd teen John Isner en Jack Sock diens gedoen het.

Roger FedererFoto: Getty Images

As Nadal nie beseer was, sou hy in vier agtereenvolgende wedstryde in die kragmeting gespeel het nadat hy in Saterdag se laaste twee wedstryde gespeel het.

Europa het Vrydag op die eerste dag met 3-1 voorgeloop.

Die tuisspan het Saterdag na die tweede dag steeds met 7-5 voorgeloop.

Die Wêreldspan se Sock en Isner het hulle Sondag met ’n sege in die dubbelspelwedstryd teen Federer en Stefanos Tsitsipas (in Nadal se plek) die eerste keer met 8-7 in die kragmeting laat voorloop.

Sock en Isner het met 5-7, 6-4, 10-8 gewen.

Die Wêreldspan se spankaptein, John McEnroe, het na dié dubbelspelwedstryd gesê dat Kyrgios weens ’n skouerbesering ook nie verder deel in die kragmeting sal hê nie.

Nadal se plek in sy enkelspelwedstryd is deur Oostenryk se Dominic Thiem ingeneem, terwyl Taylor Fritz van Amerika vir Kyrgios vervang het.

Fritz, 30ste op die ranglys, het teen alle verwagting die Wêreldspan se voorsprong na 11-7 gerek toe hy vir Thiem (5de) met 7-5, 6-7(3), 10-5 verras het.

Europa het na Federer gekyk om die kragmeting lewendig te hou.

Die Switserse maestro het onder groot druk uitstekend afgeslaan met 75% van sy eerste afslane wat volgens

lavercup.com in was.

Hy het met sy oorwinning van 6-4, 7-6(3) oor Isner dit 10-11 om gemaak en seker gemaak die kragmeting word tot die heel laaste wedstryd verleng.

“Sascha”, soos Zverev bekend staan, het toe vergoed vir die nederlaag wat hy Saterdag teen Isner gely het.

Raonic, in sy eerste verskyning in die skouspel, het met sy kragtige afslane – hy het 12 kishoue in die wedstryd gemoker – die Duitser laat sweet in die tweede stel om ’n super-valbylpot af te dwing.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.