Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Tennis
Evert sê Osaka kan só haar kwessies troef

Die Amerikaanse tennislegende Chris Evert sê die Japannese ster Naomi Osaka “moet ’n veilige spasie vind” en hulp kry om die dilemma waarin sy haarself bevind op te los.

Naomi Osaka erken sy sukkel met haar geestesgesondheid. Foto: Getty Images

Osaka (23), tweede op die wêreldranglys, het haar aan die Franse Ope onttrek weens omstredenheid oor haar besluit om die mediaonderhoude ná wedstryde te boikot.

Sy het ook erken sy het met haar geestesgesondheid begin sukkel in 2018 toe sy die Amerikaanse Ope-titel in ’n omstrede eindstryd teen Serena Williams beklink het.

Osaka het nog nie gesê wanneer sy beplan om terug te keer nie en dit laat vrae ontstaan oor haar deelname aan Wimbledon, wat op 28 Junie begin, en die Olimpiese Spele in Tokio.

Evert, ’n analis en aanbieder vir Eurosport, is gevra of Osaka in die grasbaan-Grand Slam moet meeding.

“Ek het geen idee nie, ek weet nie, ek is nie in haar kop nie,” sê sy.

“Jy moet in iemand se skoene loop. Ek hoop net sy neem die tyd wat sy nodig het om in ’n veilige spasie te kom, ’n veilige plek, om haarself met goeie mense te omring.”

Chris Evert is ’n wenner van 18 major-titels. Foto: Getty Images

Evert het die eerste van haar 18 Grand Slam-titels as ’n 19-jarige in 1974 by Roland Garros verower.

Osaka was 20 toe sy haar eerste major-sege by Flushing Meadows behaal het en volgens Evert kan die skielike roem en fortuin oorweldigend wees.

Die dieper probleem is wanneer jy jonk en skaam en kwesbaar en ’n privaat persoon is, dan skielik een van die bekendste sportlui ter wêreld word; ek dink dit is die probleem,” sê Evert.

“Dit is moeilik om by daardie lewe aan te pas.”

Evert het simpatie met Osaka se bewering dat mediakonferensies ’n negatiewe invloed op spelers se geestesgesondheid kan hê.

“Ek dink die media moet hierdie jong spelers die spasie gun om te groei. Moet hulle nie met vrae getraumatiseerd laat voel nie, vrae herhaal of persoonlike vrae vra nie.

“Die media is ’n groot deel hiervan en hulle moet ook verander.

Maar Evert is gekant teen die voorstel dat spelers van hul mediaverpligtinge onthef word.

“Die spelers het ’n verantwoordelikheid om oor hul wedstryde te praat, nie hul liefdeslewe of enige ander kwessie nie.

“Maar as hulle soveel geld verdien . . . gebruik dan die uur of wat ná ’n nederlaag om af te koel, gaan en beantwoord vir 15 minute vrae oor hoe jy vertoon het en wat die keerpunt was.

“Daardie vrae is regverdig. Die media het die sport en die spelers gehelp om ’n handelsnaam te bou.”

– Reuters

Meer oor:  Tennis  |  Franse Ope  |  Naomi Osaka  |  Geestesgesondheid
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.