Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Tennis
KYK: Federer behaal 100-tal in rillerstryd

“Dank Vader vir die supervalbylpot.”

Dít was die woorde van ’n verligte Roger Federer nadat hy teruggeveg het om die Australiër John Millman in vyf stelle met 4-6, 7-6 (7/2), 6-4, 4-6, 7-6 (10/8) te klop in die derde ronde van die Australiese Ope-tennistoernooi in Melbourne.

Roger Federer moes diep delf om John Millman in die derde ronde van die Australiese Ope te verslaan. Foto: Getty Images

Dit was ’n epiese stryd, wat vier uur en 45 minute geduur het en waar Federer met 4-8 agter was in die supervalbylpot in die beslissende stel.

Sou dit ’n gewone valbylpot gewees het, sou Federer dit met 7/4 verloor het en uitgeskakel gewees het. Die Aussie Ope het egter vanjaar die super-valbylpot in die beslissende stel ingestel en dus moet ’n speler 10 punte wen om te kan seëvier en nie die gebruiklike sewe nie.

Dit was een van daardie wonderlike kragmetings waar dit eintlik tragies was dat iemand moes verloor.

Met die volgepakte stadium baie verdeeld oor wie hulle wou hê moes wen, het Millman, wat reeds by ’n vorige Amerikaanse Ope in New York Federer se baas was, vir groot dele van hierdie kragmeting gelyk asof hy dit weer sou doen en as brandbestryder die derde gekeurde Switser se vuur sou blus.

“John het fantasties gespeel. Hy is ’n wonderlike vegter en ’n baie aangename mens. Ek het geluk aan my kant gehad om te kon deurkom,” het Federer ná sy oorwinning erken.

Die Switserse meester, wat met hierdie wen sy 100ste oorwinning in die Australiese Ope behaal en met die 100 wat hy ook al by Wimbledon bereik het, nou die enigste speler in die geskiedenis van die spel is wat 100 wedstryde of meer in twee Grand Slam-toernooie kon wen, het ruiterlik erken op 4-8 in die supervalbylpot het hy al begin dink wat hy op die mediakonferensie sou sê oor hoekom hy verloor het.

“John het net soveel soos ek verdien om hierdie een te wen. Ek moes net gefokus probeer bly met die laaste klompie punte,” sê Federer.

Dit het hy gedoen en ses in ’n ry verower. Op die wedstrydpunt het Millman met ’n voorarmhou na die verkeerde kant gegaan en die bal reguit na Federer geslaan, wat dit met ’n voorarm van sy eie in die oop baan geslaan het vir die wenner.

Wat ’n besondere manier om daardie 100ste oorwinning te behaal.

“John het my baie ongemaklik laat voel dwarsdeur die wedstryd en ek kon hom nie in die moeilikheid kry op sy afslaan nie.”

Millman, nommer 48 ter wêreld, het nou wel uiteindelik die aftog geblaas, maar as daar iemand is wat ’n boek kan skryf oor hoe om Federer te klop, is dit hierdie 30-jarige Queenslander van Brisbane.

Roger Federer gee John Millman ’n drukkie nadat dié Australiër hom so ampertjies weer uit ’n Grand Slam-toernooi geskakel het. Foto: Getty Images

Waar dit vir Federer moes voel asof hy vir sy lewe geveg het, het die tweede gekeurde, Novak Djokovic, ’n gerieflike sege met 6-3, 6-2, 6-2 oor Japan se Yoshihito Nishioka behaal.

Marin Cilic van Kroasië het ook vyf stelle lank gespook om die negende gekeurde Spanjaard, Roberto Bautista-Agut, met 6-7 (3/7), 6-4, 6-0, 5-7, 6-3 te verslaan.

Die Kanadees Milos Raonic, 32ste gekeur, het vir ’n opskudding gesorg deur die sesde gekeurde Griek, Stefanos Tsitsipas, heel maklik in skoon stelle met 7-5, 6-4, 7-6 (7/2) te verslaan.

Meer oor:  Australiese Ope  |  Novak Djokovic  |  Tennis  |  Roger Federer  |  Melbourne
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.