Tennis se Groot Drie en ’n jong Amerikaner wat ook weg van die baan sy stempel afgedruk het vanjaar, het vandeesweek almal onder die wenners by die Beroepspelersvereniging (ATP) se prysuitdeling getel.
Novak Djokovic het die trofee gekry vir die speler wat die jaar as die wêreld se nr.1-speler afgesluit het. Dié 17-malige Grand Slam-wenner het op die ouderdom van 33 jaar, ses maande en 16 dae die oudste speler geword om ’n kalenderjaar as die nr. 1 te voltooi. Rafael Nadal (33 jaar, vyf maande en 23 dae) was die vorige rekordhouer.

Rafael Nadal is sy eweknieë se grootste rolmodel. Foto: Getty Images
Die einste Nadal is vir die derde agtereenvolgende jaar met die Stefan Edberg-prys vir sportmanskap beloon. Dís ’n groot pluimpie vir hom, want sy mede-spelers het hiervoor gestem. Spelers se sin vir regverdigheid, professionalisme en integriteit op en weg van die baan word in ag geneem.
“Dit beteken geweldig baie vir my om weer hierdie trofee te kon wen,” het Nadal, ’n 20-malige Grand Slam-kampioen, gesê.
“Ek wil as ’n goeie persoon eerder as ’n goeie tennisspeler onthou word.”
Die derde lid van die Groot Drie, Roger Federer, het vanjaar vanweë ’n kniebesering slegs ses enkelspelwedstryde gespeel, maar is vir ’n 18de jaar agtereenvolgens as ondersteuners se gunsteling-speler aangewys.

Frances Tiafoe is deur die ATP vereer vir sy humanitêre werk. Foto: Getty Images
Frances Tiafoe, ’n 22-jarige Amerikaner, het die Arthur Ash- humanitêre prys gekry vir sy werk van die baan af in dié jaar, wat erg deur die Covid-19-pandemie geraak is.
Hy het nie net getekende gedenkwaardighede opgeveil om geld in te samel vir diegene wat finansieel swaargetrek het weens die pandemie nie, maar het ook sy stem laat hoor in die protes wat in Amerika ontstaan het ná die dood van George Floyd vroeër vanjaar.
Hy het ’n inspirerende video geplaas waarin Serena Williams, Naomi Osaka, James Blake en Gael Monfils onder andere verskyn het om mense bewus te maak van maatskaplike ongeregtighede.
Die Russiese speler Andrey Rublev is op sy beurt as die “Mees Verbeterde Speler van die Jaar” aangewys nadat hy vyf titels ingeryg en van nr. 23 tot nr. 8 op die wêreldranglys geklim het.
Kanada se Vasek Pospisil is vereer vir die wyse waarop hy vanjaar teruggeveg het. Hy het 2020 buite die top-100 begin, maar die jaar op nr. 61 afgesluit nadat hy die eindstryd van ATP-toernooie in Montpellier en Sofia gehaal het.
Spanje se Carlos Alcaraz is die Nuweling van die Jaar. Hy het van nr. 491 tot die 141ste plek op die wêreldranglys gevorder.
Wat dubbelspel betref, het die Amerikaanse Ope-kampioene, Mate Pavic en Bruno Soares, die trofee gekry as die paar wat die jaar in die nr.1-posisie afgesluit het.
Jamie Murray en Neal Skupski is as ondersteuners se gunsteling-dubbelspaar aangewys. – TeamTalk