SPESIALE VAKANSIE-AANBOD: Teken in teen net R49 vir jou eerste maand! Word 'n intekenaar
Tennis
Federer: ‘Dís wanneer ek sal uittree’

“Ek sal na my liggaam luister.”

Só het die legendariese Roger Federer Woensdag gesê toe hy vir die soveelste keer oor sy uittrede uitgevra is.

Roger Federer is nog vuur en vlam oor sy tennisloopbaan. Foto: AP

Die Switserse tennismaestro het in 2009 die eerste keer begin wonder hoe lank sy loopbaan sou duur. Maar ’n dekade later is die 38-jarige steeds skerp en sterk, en sê hy sal aanhou speel totdat sy liggaam vir hom sê om halt te roep.

Federer het sy laaste Grand Slam-titel in Januarie 2018 gewen toe hy ’n sesde Australiese Ope-kroon verower het. Hy het sedertdien sewe ATP-titels vir ’n loopbaantotaal van 103 gewen.

Alhoewel hy nie vanjaar ’n Grand Slam-toernooi kon wen nie, het die Switser die seisoen as nr. 3 afgesluit. Rafael Nadal (1) en Novak Djokovic (2) is die enigste spelers bo hom op die wêreldranglys.

Federer sê hy kan nie voorspel wanneer hy gaan ophou speel nie.

“My uittrede hang af van my gesondheid. Tans sien ek geen rede om uit te tree nie,” het die 20-malige Grand Slam-kampioen in die Argentynse hoofstad, Buenos Aires, gesê.

Hy en die Duitser Alexander Zverev speel vandeesweek vertoonwedstryde in Suid-Amerika.

Federer het verlede week in die ATP-jaareindtoernooi ’n skitterende vertoning gelewer om Djokovic te klop, maar daarna in twee stelle teen Stefanos Tsitsipas in die halfeindronde verloor. Tsitsipas was die uiteindelike kampioen in Londen.

“Ek het nooit gedink ek sal selfs op 35 of 36 jaar nog speel nie en tog is ek nog hier. Fisiek voel ek goed.

“Ek het in 2009 vir die eerste keer daaroor begin dink. Dit is nou tien jaar later en ek is nog hier. Ek is presies waar ek op 38 jaar wil wees.”

Federer het tans ses ATP-titels minder as Jimmy Connors van Amerika se rekord van 109 in die ope-era.

“Dinge raak ’n bietjie moeiliker soos jy ouer word. Terselfdertyd kan jy met meer ondervinding agter die rug die oomblikke meer geniet en koester.

“Ek weet nie hoe dit gaan eindig nie. Ek vermoed dit gaan emosioneel wees,” sê Federer.

“Ek hoop dit gaan lekker wees en nie te moeilik nie.”

Die Switser het reeds sy wedstrydprogram afgeskaal en bestuur sy rooster baie goed.

’n Mens kan aanvaar hy het nog onafgehandelde sake op sy geliefde gras van Wimbledon én die Olimpiese Spele.

* Altesame 43 000 toeskouers word Donderdag in Mexikostad vir “The Greatest Match” tussen Federer en Zverev verwag, berig tennisworldusa.org.

Dit kan ’n nuwe wêreldrekord wees. Federer en Nadal is in Februarie in Kaapstad slaags en dié vertoonwedstryd sal na verwagting by die 50 000 toeskouers lok.

– Reuters

Meer oor:  Tennis  |  Roger Federer
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.