Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Tennis
Federer ‘nog nie oor die Grand Slam-muur’

Roger Federer het twee jaar gelede in Melbourne sy 20ste Grand Slam-kroon verower ... en baie kenners meen dít was ook sy laaste groot tennistitel.

Maar Mats Wilander, ’n sewemalige Grand Slam-wenner, tel nie onder dié groep nie.

Roger Federer warm Sondag vir oulaas op vir die Australiese Ope, wat Maandag in Melbourne begin. Hoewel hy al 38 is, is hy gewis geen Mickey Muis op die tennisbaan nie. Foto: Getty Images

Hoewel dié Sweed toegee dat die twee topgekeurdes, Rafa Nadal (1) en Novak Djokovic (2), tans ’n tree voor die 38-jarige Switser is, glo hy dat die toestande in die Australiese Ope ’n wenkans aan die oudste lid van die “Groot Drie” bied.

“Ek glo Federer kan in Melbourne wen,” het Wilander op die vooraand van vanjaar se eerste Grand Slam-toernooi gesê.

“Verlede jaar se nederlaag teen (Stefanos) Tsitsipas (in die vierde ronde van die Aussie Ope) sal uiteraard ’n onaangename herinnering wees en ek dink dít het hom op ’n manier die res van die jaar gekniehalter.

“Hy het nie ’n goeie wedstryd gehad nie. Hy het vir die res van die wêreld gewys dat hy ook menslik is en ’n bietjie senuweeagtig kan raak.

“Sy grootste probleem is dat Novak en Rafa uitstekende voorbereiding vir vanjaar se toernooi gehad het,” het hy met verwysing na hul sterk vertonings in die onlangse toernooi om die ATP-beker gesê.

“Maar bygesê, Federer se oorwinnings (in Australië) in 2017 en 2018 was ook verrassend, so wonderwerke gebeur nog vir hom in Melbourne en daardie wete sal sy selfvertroue ’n hupstoot gee.”

Rafa Nadal op die oefenbaan in Melbourne. Sy Australiese Ope-veldtog begin Dinsdag. Mats Wilander glo hy sal vanjaar Roger Federer se rekord vir die meeste Grand Slam-titels ewenaar en moontlik selfs oortref. Foto: Reuters

Wilander is van mening dat Nadal in 2020 ’n Grand Slam-titel gaan wen en dan gelyk sal trek met Federer se rekord van 20 (sou Federer nie in Australië wen nie), maar hy wil nie in ’n debat betrokke raak oor wie van dié twee legendes die grootste speler van alle tye is nie.

“Hoe vergelyk jy Roger Federer en Rafa Nadal? Dis onmoontlik. Roger is vyf, ses jaar ouer ensovoorts, ensovoorts. Nee, jy kan hulle nie vergelyk nie, maar op papier (statisties gesproke) dink ek dat Nadal Federer dié seisoen gaan verbysteek.

“Nadal sal ’n Grand Slam wen vanjaar, maar ek is nie seker of hy die wêreld se nr.1-speler sal bly nie. Hy het ’n lang jaar in 2019 met die Davisbeker (in November) en nou ook die ATP-beker gehad.

“Ek dink hy gaan iewers vanjaar ’n blaaskans moet neem en dít is nooit goed vir jou ranglyspunte nie. Tog glo ek nie dít sal hom pla nie. Hy speel om Grand Slams te wen, dís wat vir hom tel.”

Federer kom Maandag in die eerste ronde teen die Amerikaner Steve Johnson te staan, terwyl Djokovic sy veldtog teen die Duitser Jan-Lennard Struff begin.

Nadal se eerste kragmeting is Dinsdag teen Bolivia se Hugo Dellien.

Suid-Afrika se groot hoop in Melbourne, Kevin Anderson, is ook Dinsdag die eerste keer in aksie. Hy speel dan teen die relatief onbekende Ilya Ivashka van Belarus.

Anderson se jong landgenoot Lloyd Harris, wat Saterdag in Adelaide in sy eerste ATP-eindstryd gespeel het, kom Maandag teen Diego Schwartzman (14de gekeur) te staan.

Harris het in Adelaide geskitter deur met drie top-40-spelers af te reken, maar in die eindstryd het die Rus Andrey Rublev (18de op die wêreldranglys) hom ’n tennisles geleer en met 6-3, 6-0 geseëvier. – TeamTalk, Sportredaksie

Meer oor:  Australiese Ope  |  Tennis  |  Roger Federer  |  Rafa Nadal
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.