Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Tennis
Federer oor Wimbledon: ‘Verpletterend!’
Roger Federer verlede jaar by Wimbledon. Foto: Getty Images

Roger Federer, die agtmalige Wimbledon-kampioen, het die emosies van tennis se topspelers en ondersteuners Woensdagaand met ’n enkele woord vasgevang.

“Verpletterend!” het die Switserse legende getwiet, kort ná die aankondiging dat die Wimbledon-toernooi vanjaar vir die eerste keer sedert die Tweede Wêreldoorlog nie sal plaasvind nie.

Die toernooi sou van 29 Junie tot 12 Julie plaasgevind het, maar is weens die onsekerheid oor die Covid-19-pandemie van die baan vir 2020.

Serena Williams, Federer se tydgenoot wat ses keer by Wimbledon-geseëvier het, het ook met ’n kort, veelseggende twiet haar emosies opgesom.

“Ek is geskok.”

Dit sou natuurlik vergesog wees om voor te stel dat Federer en Williams se dae op Wimbledon se groen gras deur die kansellasie beëindig is, maar albei word later vanjaar 39 (in onderskeidelik Augustus en September) en nader inderdaad die einde van hul roemryke loopbane.

Nog ’n speler wat onseker is hoe gereeld hy nog by Wimbledon sal kan raket swaai (in sy geval weens beserings), is die Brit Andy Murray.

“Baie hartseer dat die Fever-tree-kampioenskap (’n grasbaan-toernooi in Engeland) en Wimbledon vanjaar gekanselleer is, maar met alles wat nou in die wêreld aangaan is almal se gesondheid beslis die belangrikste ding,” twiet Murray. “Ek sien reeds daarna uit om aanstaande jaar terug op die gras te wees. #StayHomeSaveLives.”

Petra Kvitova, die tweemalige Wimbledon-kampioen, het gesê die toernooi se kansellasie is ’n bitter pil om te sluk.

“Nie net is dit vir my ’n spesiale toernooi nie, maar een wat al vir so lank deel van die geskiedenis is dat dit ’n groot gat in die kalender gaan los.

“Ek sal dit mis om op die pragtige gras te speel en wit te dra, maar natuurlik weet ons dit sal volgende jaar terug wees en beter as ooit. En dalk waardeer ons dit selfs meer!” sê sy.

Die Suid-Afrikaner Kevin Anderson, wat in 2018 geskiedenis gemaak het as die eerste Suid-Afrikaanse man in die Wimbledon-eindstryd in 97 jaar, is ook hartseer oor die kansellasie.

“Ek het soveel wonderlike herinneringe by Wimbledon en die grasseisoen sal beslis gemis word, maar die belangrikste ding waarop ons nou moet fokus, is dat almal gesond en tuis bly.”

Benewens Wimbledon is al die ATP- en WTA-reekse se toernooie tot 13 Julie nou gekanselleer, wat beteken daar sal geen grasbaanseisoen wees nie. Die ATP-reeks, wat manstennis bestuur, het in die laaste week van Februarie laas ’n toernooi aangebied, en die vroue se WTA-reeks in die eerste week van Maart.

Soos sake nou staan sal 2020 op die meeste drie Grand Slam-toernooie insluit. Die Australiese Ope het die Covid-19-chaos in Januarie vrygespring, maar die Franse Ope is van Mei tot September uitgestel.

Die Amerikaanse Tennisvereniging (USTA), wat die Amerikaanse Ope organiseer, het Woensdag in ’n verklaring gesê hulle “beplan in die stadium steeds om die Amerikaanse Ope soos geskeduleer aan te bied. Ons monitor die snel-veranderende situasie rondom die pandemie en berei voor vir alle moontlikhede.”

Die Amerikaanse Ope is geskeduleer om op 24 Augustus in New York te begin.

Meer oor:  Wimbledon  |  Koronavirus  |  Tennis  |  Roger Federer  |  Covid-19
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.