Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Tennis
Franse dosyn vir onstuitbare Nadal
Rafael Nadal is vir die twaalfde keer in sy loopbaan die Franse Ope-kampioen. Foto: Getty Images

Twaalf eindstryde, 12 titels.

Dis nie om dowe neute nie dat ’n kragmeting met Rafael Nadal op die rooi klei van Roland Garros as die taaiste toets in tennis beskou word.

En die jong Dominic Thiem het daardie toets Sondag vir die tweede jaar in ’n ry gedop.

Die naam “Rafael Nadal” is Sondagmiddag vir die 12de keer in 14 jaar op die Franse Ope se Musketierstrofee ingeëts nadat hy ’n veglustige, maar onbestendige Thiem met 6-3, 5-7, 6-1, 6-1 op die Philippe Chatrier-baan verslaan het. Die jong Oostenryker het beslis sy deel gedoen om vir ’n opwindende en aanskoulike wedstryd te sorg, maar al die krag in sy voorarm, al die valhoue in sy arsenaal en al die verbeelding in sy kop was nie genoeg om die Koning van Klei van sy troon te stamp nie.

Weet een ding: daar ís Franse Ope-glorie in Thiem se toekoms. Hy word nie verniet as die Prins van Klei beskou nie. Dis ’n oppervlak waarop hy iets uit niks kan optower en moeilike vrae aan enige teenstander kan stel.

Maar vir sy eie oomblik in die Parys-son sal hy straks moet wag tot die gordyn oor Nadal se loopbaan sak. Daar is nog geen teken dat die Spanjaard se vermoë om op klei die lewe uit enigiemand te wurg, aan die taan is nie.

Weens die reënonderbrekings van die afgelope week moes Thiem Donderdag, Vrydag én Sondag by Roland Garros se hekke inry om tennis te speel, en in ’n klipharde halfeindstryd het hy meer as vier ure nodig gehad om Novak Djokovic onder te kry.

Die verwagting was dat die Oostenryker die eindstryd met ’n leë petroltenk sou ingaan, maar hy het verras deur die wedstryd sterker te begin.

Die algemene gevoel was dat hy die eerste stel móés wen om ’n kans te staan, gegewe dat Nadal se momentum - veral op klei - moeilik gebreek word as hy eers voor is.

Dominic Thiem het baie hard probeer, maar nie die skietgoed gehad om Nadal te stuit nie.Foto: Reuters

Toe Thiem op Nadal se afslaan deurbreek in die vyfde pot van die eerste stel, het dit gelyk of hy op die regte pad is, maar eintlik het hy net die leeu in Nadal wakker gemaak. Die Spanjaard het al vier die volgende potte gewen om met die stel weg te stap, en die berg voor Thiem net hoër gemaak.

Die intensiteit van die wedstryd se eerste sewe potte was in die tweede stel nêrens te sien nie, maar daar was nooit ’n aanduiding dat Nadal te kort sou skiet nie. Toe Thiem se kragspel in die 12de pot terugkeer en die Nadal-afslaan breek, was dit amper van nêrens – maar weer net genoeg om ’n vlam onder die kampioen se sitvlak aan te steek.

Daarna was Nadal duidelik sat vir sukkel. Nie eens Thiem se dapperste en slimste tennis was genoeg om die voorspelde draaiboek te verhinder nie, met Nadal gemaklik aan die stuur van sake in albei die laaste stelle. Ná drie ure en een minuut het die Spanjaard die wenhou geslaan.

Sy heerskappy op sy klei-troon bly ongeskonde.

Benewens die magiese syfer van 12 het Nadal Sondag ook by ’n ander grote uitgekom: Grand Slam-titel nr. 18.

Dit plaas hom net twee agter Roger Federer se wêreldrekord van 20.

“Dis ’n baie spesiale oomblik vir my,” het Nadal gesê.

“Dis ongelooflik. Ek kan nie verduidelik wat ek vermag het en wat dit beteken nie. Dit was ’n droom om in 2005 die eerste keer hier te speel. Ek het nooit kon dink ek sou in 2019 steeds hier wees nie. Dis ’n wonderlike oomblik.”

Vir Thiem is dit darem nie heeltemal terug na die tekenbord nie. Hy het homself nooit in die skande gesteek nie, maar ondanks sy beste pogings die knie gebuig voor die dodelike kombinasie van sy eie tam bene en Nadal se towerkuns.

By Roland Garros is die status quo behoue. Dis steeds Rafael Nadal se koninkryk.

* Die berig is met nuwe inligting aangepas.

Meer oor:  Tennis  |  Eindstryd  |  Dominic Thiem  |  Franse Ope  |  Rafael Nadal
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.