Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Tennis
Gauff (15) pak Osaka in 3de ronde

Die tienerster Coco Gauff het Woensdag ’n agterstand uitgewis om die derde ronde van die Australiese Ope te haal waar sy teen die verdedigende kampioen, Naomi Osaka, te staan sal kom.

AusOpen.com berig die 15-jarige Amerikaner, in slegs haar derde Grand Slam-toernooi en eerste in Melbourne, was uit haar vel van vreugde nadat sy die Roemeen Sorana Cirstea met 4-6, 6-3, 7-5 geklop het.

Coco Gauff vier haar oorwinning Woensdag in Melbourne. Foto: Getty Images

Die Japannees Osaka, ’n relatiewe veteraan op die ouderdom van 22, het Gauff in skoonstelle geklop in die twee se enigste ander ontmoeting in die derde ronde van die Amerikaanse Ope in 2019.

“Dit was emosioneel,” het Gauff, 67ste op die wêreldranglys, ná afloop van haar oorwinning gesê.

Gauff het die sewemalige major-kampioen Venus Williams in die eerste ronde uitgeboender, ’n herhaling van haar sege oor haar landgenoot in haar Grand Slam-buiging op Wimbledon verlede jaar.

Naomi Osaka het gesukkel om haar emosies te beheer. Foto: Getty Images

Die derde gekeurde Osaka het ’n woedebui oorkom om China se Zheng Saisai, 42ste op die ranglys, met 6-2, 6-4 af te stof.

Osaka het haar afslaan vroeg in die tweede stel verloor en haar raket op die grond gegooi en geskop.

Die plaaslike gunsteling Ashleigh Barty het minder as ’n uur nodig gehad om die Sloween Polona Hercog met 6-1, 6-4 te oorrompel, terwyl die sewende gekeurde Tsjeg Petra Kvitova met 7-5, 7-5 met Paula Badosa van Spanje afgereken het.

’n Emosionele Caroline Wozniacki het trane in haar oë gehad toe sy haar hoop lewendig gehou het om tennis op ’n hoë noot te groet.

Die 29-jarige Deen het terugbaklei in albei stelle om Dayana Yastremska (23ste) van Oekraïne met 7-5, 7-5 te klop.

Neil Diamond se treffer “Sweet Caroline” het oor die luidsprekers gespeel toe die kampioen in 2018 haar sesde wedstrydpunt benut.

“Die toeskouers het my werklik goed ondersteun, dis emosioneel en baie spesiaal,” het Wozniacki gesê, wat in Desember bevestig het hierdie is haar laaste toernooi.

* In die mansloting het die Serwiër Novak Djokovic, ’n wenner van sewe titels in Melbourne, gemaklik met die Japannees Tatsuma Ito afgereken. Die tweede gekeurde Djokovic was in 95 minute baas met ’n telling van 6-1, 6-4, 6-2.

Die jong Griek Stefanos Tsitsipas het tot die derde ronde deurgedring sonder om ’n hou te speel nadat sy Duitse teenstander Philipp Kohlschreiber weens ’n besering aan hul kragmeting onttrek het.

Daar word baie verwag van die 21-jarige Tsitsipas, wat op pad na die halfeindronde in verlede jaar se toernooi vir Roger Federer geskok het.

VOLLEDIGE UITSLAE

– Sportredaksie

Meer oor:  Australiese Ope  |  Tennis  |  Coco Gauff  |  Naomi Osaka
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.