Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Tennis
Gauff buig die knie voor Krejcikova
Barbora Krejcikova het vir die eerste keer in haar loopbaan die halfeindronde van ’n Grand Slam-toernooi gehaal. Foto: Reuters

As ’n oningewyde tenniskyker Woensdagoggend in die eerste stel ingeskakel het vir die Franse Ope-kwarteindstryd tussen Coco Gauff en Barbora Krejcikova, sou hulle nooit kon raai dat Gauff net 17 jaar oud is nie.

Maar het daardie kyker die kanaal in die tweede stel aangeskakel, sou dit ’n heel ander storie gewees het.

Gauff se Franse Ope-avontuur het Woensdag geëindig nadat sy behoorlik Jekyll en Hyde op Roland Garros se hoofbaan gespeel het. Aanvanklik was sy ten volle in beheer, terwyl Krejcikova duidelike tekens van senuwees getoon het – maar nadat sy drie stelpunte verspeel het, het sy die stereotipiese tiener begin versinnebeeld: dikmond, geneig tot uitbarstings, impulsief en ongeduldig.

En dit bring natuurlik min tot geen sukses op die tennisbaan nie.

Krejcikova, ’n dubbelspelspesialis, sal Donderdag vir die eerste keer in haar loopbaan uitstap vir die halfeindronde van ’n Grand Slam-toernooi nadat sy Gauff Woensdag met 7-6(6), 6-3 verslaan het.

Krejcikova, ’n dubbelspelspesialis, sal Donderdag vir die eerste keer in haar loopbaan uitstap vir die halfeindronde van ’n Grand Slam-toernooi nadat sy Gauff Woensdag met 7-6(6), 6-3 verslaan het.

Die Tsjeg het ná haar vierderonde-oorwinning oor Sloane Stephens gesê sy het so byna nie uitgestap vir daardie wedstryd nie omdat haar senuwees haar heeltemal oorweldig het. Teen Gauff het sy ook begin met bewerasies en die eerste drie potte verloor. Maar toe sy uiteindelik in die vierde pot op die bord kom, het sy merkbaar rustiger geraak en meer en meer in die wedstryd gekom.

Aan die ander kant van die net het Gauff oorgeloop van selfvertroue en Krejcikova op die agtervoet gehou met kragtige houe vanuit elke hoek van die baan. Dis nou reeds twee jaar sedert die Amerikaner haarself aan die wêreld bekend gestel het en die talente waarmee sy in 2019 tot die vierde ronde van Wimbledon gevorder het, is nou verfyn. Krejcikova het telkens nie raad met haar gehad nie.

In sport is die belangrikste eienskappe wat ’n atleet kan hê egter sielkundig van aard en daaraan moet Gauff nog werk. Die jongeling het ’n stelpunt gehad op 5-4, 40-30, maar die deur wawyd oopgemaak vir Krejcikova deur ’n skewe handrughou op te volg met ’n dubbelfout en op die volgende punt ’n ongedwonge fout. Skielik het sy begin twyfel, terwyl daar nuwe geloof in Krejcikova se hart was.

Wat moet ek doen? Coco Gauff soek bemoediging van haar ouers en afrigters tydens haar foutbesaaide tweede stel Woensdag in die Franse Ope teen Barbora Krejcikova. Foto: Reuters

Gauff het ook in die valbylpot twee stelpunte bewerkstellig, maar is dié keer deur twee wonderlike voorarmhoue van Krejcikova gefnuik. Die ouer vrou het die stel verseël deur ’n eksie-perfeksie afslaan met nog ’n priemende voorarmhou op te volg.

Net daar het die wiele vir Gauff afgekom. Haar Tsjeggiese teenstander het die pap al hoe dikker aangemaak en Gauff het die foute in reaksie ingeryg. In ’n oogwink was sy met 0-5 agter en haar frustasies het so oorgekook dat sy ’n raket flenters geslaan het. Dit was ’n uitlaatklep, met die Amerikaner wat daarna drie potte in ’n ry gewen het, maar die koeël was toe reeds deur die kerk en die pad terug te steil.

Sy het in die tweede stel 17 ongedwonge foute gemaak en net vyf wenhoue geslaan. In teenstelling daarmee het Krejcikova haar beste peil bereik en net vier van die punte op haar eie eerste afslaan verloor.

Krejcikova was half verbysterd om haarself in die halfeindronde te bevind.

Ek het nie in my wildste drome verwag ek sou op hierdie baan speel nie, veral nie in die enkelspel nie.
Barbora Krejcikova

“Ek het hierheen gekom ná ’n swak begin tot my kleibaanseisoen – en nou is ek in die halfeindronde! Ek het nie in my wildste drome verwag ek sou op hierdie baan speel nie, veral nie in die enkelspel nie,” het die 25-jarige ná die tyd gesê.

Krejcikova sal Vrydag in die halfeindronde teen die wenner van die wedstryd tussen die verdedigende kampioen, Iga Swiatek, en Griekeland se Maria Sakkari te staan kom.

Meer oor:  Barbora Krejcikova  |  Coco Gauff  |  Roland Garros  |  Parys  |  Tennis  |  Kleibaan  |  Grand Slam
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.