Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Tennis
Gauff t. Osaka: Tennis se toekoms

Aan die een kant van die net: ’n 22-jarige wat verlede jaar gevou het onder die druk van haar eie en die tenniswêreld se verwagtinge en nou tot elke prys haar gemaklikheid en volwassenheid op die baan probeer herwin.

Aan die ander kant: ’n 15-jarige wat reeds die wêreld aan haar voete het, reeds met veterane meer as dubbel haar ouderdom afgereken het, reeds ’n WTA-titel agter haar naam het . . . en in hierdie wedstryd niks het om te verloor nie.

Coco Gauff gaan haar Australiese Ope-wedstryd teen die verdedigende kampioen, Naomi Osaka, Vrydag as die buiteperd binne. Foto: Getty Images

Die Rod Laver-arena sal Vrydag die middelpunt van die tenniswêreld wees wanneer “die toekoms van tennis”, Naomi Osaka en Coco Gauff, mekaar in die derde ronde van die Australiese Ope pak.

Osaka gaan die wedstryd as oorweldigende gunsteling binne, deels omdat sy Gauff in elke afdeling ore aangesit het toe hulle verlede jaar by die Amerikaanse Ope slaags was, maar veral omdat sy albei haar eerste teenstanders in Melbourne met pure aggressie, krag en vertroue oorrompel het.

Hoewel Gauff die afgelope week bo uitgekom het in twee driestel-toetse teen veterane en daar nie meer twyfel oor haar veggees en talent is nie, behoort die onbestendigheid en somtydse swak besluitneming wat haar in hierdie vroeë stadium van haar loopbaan teister, baie swaarder deur Osaka gestraf te word as wat Sorana Cirstea of Polona Hercog het.

Osaka is die verdedigende kampioen in Melbourne en beskik oor al die wapens wat nodig is om ’n grote te word. Ná ’n foutbesaaide 2019, waarin die realiteite van haar beroemdheid haar week ná week gepootjie het, is alles nie volmaak op Planeet Naomi nie, maar sy het reeds die week gewys sy is geestelik sterker as ses maande terug.

Osaka het Woensdag haar raket gegooi nadat haar tweederonde-teenstander, Zheng Saisai, in die tweede stel op haar afslaan deurgebreek het, maar daarvan herstel om steeds in skoon stelle te seëvier.

Naomi Osaka blyk nou geestelik sterker te wees as ses maande gelede. Foto: Getty Images

Agterna het sy om verskoning gevra vir haar “kinderagtigheid”.

“My raket het net uit my hand gevlieg,” het sy agterna volgens AFP aan joernaliste gesê. “Ek wil net een wedstryd speel waar ek nie my raket gooi of skop nie. Dis al wat ek wil hê. Jammer, Yonex,” het sy met verwysing na haar raketvervaardiger gesê.

Van Gauff het die wêreld nog nie sulke uitbarstings gesien nie, met haar tranerige reaksie op verlede jaar se nederlaag teen Osaka die meeste emosie wat sy al op die groot verhoog gewys het.

Sy het hope geleer uit daardie wedstryd, het sy aan die New York Times gesê.

“Ek dink ek sal minder op my senuwees wees as toe,” het Gauff gesê. “Dit was my eerste keer op Ashe (die Arthur Ashe-stadion in New York), so ek was senuweeagtig. Maar ons (sy en Osaka) ken mekaar se spel. Sy is regtig aggressief. Hierdie keer moet ek ook aggressiewer wees.”

Met Gauff wat nou vir die derde keer die derde ronde van ’n Grand Slam-toernooi gehaal het, in die derde Slam van haar jong lewe, sal daar Vrydag geen skande in ’n nederlaag wees nie. Dis dalk nie noodwendig goeie nuus vir Osaka nie, want die jongeling kan baie gevaarlik wees as sy met vryheid speel.

MELBOURNE, AUSTRALIA - JANUARY 23: Karolina Plisko
Karolina Pliskova. Foto: Getty Images

* Die vrouekompetisie het Donderdag geen skokke opgelewer nie.

Die tweede gekeurde Karolina Pliskova het weer gewys dit kan twee groot weke vir haar wees, toe sy van 1-3 in die eerste stel herstel het om Duitsland se Laura Siegemund binne minder as ’n uur en ’n half met 6-3, 6-3 te oorrompel.

Die Britse kwalifiseerder Harriet Dart moes die knie met 2-6, 4-6 voor die Wimbledon-kampioen, Simona Halep, buig. Hoewel die 23-jarige in die tweede stel van 1-4 tot 4-5 teruggeveg het, het sy nie enduit genoeg skietgoed gehad om Halep te ontwrig nie.

Die vyfde gekeurde Elina Svitolina was met 6-2, 7-6 (8/6) baas oor Amerika se Laura Davis en die sesde gekeurde Belinda Bencic het die voormalige Franse Ope-kampioen Jelena Ostapenko met 7-5, 7-5 geklop.

Dit was ’n emosionele dag vir Ostapenko, wat in die Australiese Ope gespeel het om haar gedagtes af te lei van die skielike afsterwe van haar pa vroeër vandeesmaand.

“Ek het besluit om te speel, omdat dit my sou besig hou. As ek by die huis gebly het, sou dit dinge net moeiliker gemaak het,” het sy volgens ’n berig op SuperSport gesê.

Meer oor:  Australiese Ope  |  Coco Gauff  |  Naomi Osaka
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.