Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Tennis
Geen drama op flou Maandag in Parys
Stefanos Tsitsipas tuimel Maandag grond toe in sy wedstryd in die vierde ronde van die Franse Ope teen Grigor Dimitrov. Hy was plat, maar glad nie uitgeslaan nie. Foto: Getty Images

Ná ’n Sondag van hoogdrama en opskuddings, was Maandag se tennisaksie op Roland Garros maar flou.

Novak Djokovic, die eerste gekeurde in die Franse Ope, was nie van plan om in dieselfde slaggat te trap as die eerste gekeurde vrou wat Sondag uitgeskakel is nie.

Simona Halep se nederlaag teen Iga Swiatek van Pole, 54ste op die wêreldranglys, was een van die verrassings op die toernooi se tweede Sondag.

As julle nie weet hoe ek lyk nie, so lyk ek. Stefanos Tsitsipas verlaat die baan met ’n gesigmasker op met ’n karikatuur van sy eie gesig. Foto: Getty Images

Die Rus Karen Khachanov is ’n moontlike piesangskil, maar Djokovic was strykdeur in beheer. Die wêreld se voorste speler het Khachanov, die 15de gekeurde, in 2 uur 23 minute met 6-4, 6-3, 6-3 geklop.

Dit was die eerste keer in vanjaar se toernooi dat die Serwiër meer as vyf potte in ’n wedstryd afgestaan het. Tot dusver het hy nog net 24 potte by Roland Garros verloor.

Stefanos Tsitsipas, die vyfde gekeurde, het sy plek in die kwarteindronde bespreek met ’n oorwinning in skoon stelle oor Grigor Dimitrov, die 18de gekeurde. Die telling was 6-3, 7-6(9), 6-2 in dié stryd, wat 2 uur en 26 minute geduur het.

Novak Djokovic strek Maandag om die bal terug te speel na Karen Khachanov in die vierde ronde van die Franse Ope. Foto: Reuters

Tsitsipas het daarmee die eerste Griek geword om die kwarteindronde van dié kleibaan-Slam te haal.

Terwyl sy afslaan in die kol was en sy spel bestendig, het Dimitrov op kritieke tye fokus verloor.

Die keurlys was ook in die kol in die stryd tussen die Rus Andrey Rublev, die 13de gekeurde, en die ongekeurde Hongaar Marton Fucsovics.

Rublev, die man wat Saterdag Kevin Anderson se veldtog beëindig het, het wel vir byna vier uur geswoeg voordat hy die knoop met 6-7(4), 7-5, 6-4, 7-6(3) kon deurhaak.

Rublev was in die moeilikheid toe hy met ’n stel en 2-5 agter geloop het, maar hy kon van daar terugveg om Fucsovics se toernooi te beëindig.

Dit is nie die eerste keer in die toernooi dat Rublev (22) moes terugveg nie. Hy het in die eerste ronde teen Sam Querrey ook ’n agterstand van twee stelle uitgewis.

Rublev en Tsitsipas se paaie kruis in die kwarteindronde.

Sou die Griek die Rus uit die pad kan vee, wag ’n ontmoeting met Djokovic in die halfeindronde.

Tsitsipas het die baan verlaat met ’n gesigmasker met ’n karikatuur van homself. Hy het ’n irritasie in sy linkeroog gehad, wat hopelik voor die kwarteindstryd sal opklaar.

Die Griek het in die TV-onderhoud ná die wedstryd gesê hy probeer Frans leer, maar sy tennis meng te veel in met sy studies.

• Die 19-jarige Italiaanse leeutemmer Jannik Sinner gaan Dinsdag probeer om Rafael Nadal, die tweede gekeurde, ore aan te sit. – Sportredaksie, Reuters

Meer oor:  Parys  |  Tennis  |  Franse Ope
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.