Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Tennis
KYK: Geen trane van vreugde vir Naomi

Terwyl Naomi Osaka Saterdagaand net enkele meters gestaan het van die Amerikaanse Ope-trofee waarvoor sy pas hand en tand geveg het, het die trane begin rol.

Nie trane van vreugde omdat sy haar kinderheldin, Serena Williams, in skoon stelle verslaan het nie. Trane van pyn omdat daar so ’n donker wolk oor haar eerste Grand Slam-sege gehang het.

Oral om haar in die stoele van die Arthur Ashe-stadion was mense wat haar hierdie groot oomblik misgun het. Toe sy ’n rukkie later na die verhogie stap om die trofee te ontvang, is daar geboe vanuit die skare.

Die ysere senuwees wat haar staande gehou het terwyl sy ’n raket in haar hand gehad het, het verkrummel daarsonder.

Die grootste oomblik van die 20-jarige Osaka se loopbaan sal nou vir altyd in omstredenheid gehul word, nadat die vroue-eindstryd van die Amerikaanse Ope in anargie verval het.

Vir die rekord was Osaka binne ’n uur en 19 minute met 6-2, 6-4 baas oor Williams, die vrou wat haar geïnspireer het om vir die eerste keer ’n raket op te tel. Sy het vyf van ses breekpunte afgeweer, Williams rondgejaag met dieselfde kragspel wat vir jare die Amerikaner se kenteken was en deurgaans die kalmer en beter speler op die baan gebly.

Serena Williams probeer Naomi Osaka troos terwyl die skare om hulle protesteer teen die uitkoms van die eindstryd. Foto: AP

Dit doen haar ’n onreg aan dat dié eindstryd eerder onthou sal word vir die tweestryd tussen Williams en die skeidsregter, Carlos Ramos.

Die drama het begin in die derde pot van die tweede stel, toe Ramos gesien het hoe Williams se afrigter, Patrick Mouratoglou, vir haar handgebare vanuit die pawiljoen maak.

Afrigting tydens wedstryde is verbode en Ramos het vir Williams ’n waarskuwing gegee.

Die Amerikaner was woedend. “Ons het geen kode nie,” het sy gesê. “Ek verneuk nie om te wen nie. Ek sal eerder verloor.”

Mouratoglou het volgens die BBC ná die wedstryd erken hy het uit die pawiljoen probeer raad gee, maar gesê: “Ek dink nie sy het na my gekyk nie.”

Williams het haarself reggeruk en in die vierde pot deurgebreek op Osaka se afslaan, maar toe sy in net die volgende pot deur die Japanner van haar afslaan ontneem is, het haar nerwe deurgeskuur.

Die Amerikaanse veteraan het haar raket stukkend geslaan en is met ’n punt deur Ramos gestraf. Sy het ontplof.

“Ek is nie afgerig nie. Jy skuld my ’n verskoning. Ek het nog nooit in my lewe verneuk nie. Ek het ’n dogter en ek staan vir wat reg is vir haar,” het ’n emosionele Williams aan Ramos gesê terwyl die toeskouers luid begin boe het.

Toe Osaka in die sewende pot weer deurbreek vir ’n voorsprong van 4-3, het Williams vir Ramos gesê: “Jy het ’n punt by my gesteel. Jy is ’n dief.”

Ramos het haar terstond met ’n pot gestraf, en Osaka het op 5-3 vir die wedstryd gedien.

Geen trane van vreugde . . . ’n Emosionele Naomi Osaka kyk op na fotograwe nadat sy die Amerikaanse Ope-trofee ontvang het. Foto: USA Today Sports

Op een of ander manier het die 20-jarige rustig genoeg gebly om oor die eindstreep te kom – maar sy sou nie rustig bly nie.

Toe die skare – onbeskaamd in Williams se hoek – begin boe terwyl sy opstap om die trofee te ontvang, het Osaka haar swart pet oor haar oë getrek, duidelik geskud. Haar Amerikaanse teenstander het op daardie oomblik ingegryp.

“Ek wil net vir julle sê, sy het goed gespeel en hierdie is haar eerste Grand Slam,” het Williams aan die skare gesê. “Kom ons hou op boe en gee krediet waar dit verdien word.”

Dit het die gemoedere wel laat kalmeer.

Vir Osaka was daardie gebaar deur Williams iets om te onthou. Wat sy eerder sal wil vergeet, is die totale gebrek aan trane van vreugde ná sy haar grootste droom bewaarheid het.

Serena Williams vaar uit teen die skeidsregter, Carlos Ramos, ná hy haar met ’n punt gestraf het omdat sy haar raket stukkend geslaan het. Foto: USA Today Sports

Sy het immers nie net deurgebreek op die major-verhoog nie, maar dit gedoen deur haar grootste heldin om te dop.

“Ek weet sy (Williams) wou regtig graag haar 24ste Slam hê. Dis in die advertensies, dis oral,” het Osaka volgens ESPN gesê.

“Maar wanneer ek op die baan stap voel ek soos ’n ander mens. Ek is nie ’n Serena-ondersteuner nie, ek is ’n tennisspeler wat speel teen ’n ander speler.

“Maar toe ek by die net vir haar ’n drukkie gee . . . het ek gevoel soos ’n klein kindjie. Dit voel nie nou werklik nie, maar oor ’n paar dae sal ek hopelik besef wat ek vermag het.”

’n Mens kan net hoop almal anders besef dit ook.

Meer oor:  Serena Williams  |  Naomi Osaka  |  Amerikaanse Ope
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.