Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Tennis
Geluk by ongeluk vir SA Davisbeker

Lloyd Harris en Raven Klaasen se teleurstellende veldtogte in die Amerikaanse Ope was dalk ’n bedekte seën vir Suid-Afrika se Davisbeker-span.

Lloyd Harris sal in sy tuisstad ’n sleutelspeler vir die Suid-Afrikaanse Davisbeker-span wees. Foto: Getty Images

Só het SA se Davisbeker-kaptein, Marcos Ondruska, aan die vooraand van die kragmeting met Bulgarye by die Kelvin Grove-tennisklub in Kaapstad, gesê.

Harris en Klaasen is Vrydag en Saterdag saam met Ruan Roelofse en Philip Henning in aksie teen die besoekers in ’n Euro/Afrika-groep2-stryd.

Harris, naas Kevin Anderson SA se voorste enkelspel-speler, het reeds in die eerste ronde van die Amerikaanse Ope vasgeval, terwyl Klaasen en sy Kiwi-dubbelspelmaat, Michael Venus, in die tweede ronde in New York uitgeskakel is.

Volgens Ondruska het Harris en Klaasen direk ná hul nederlae na Kaapstad gevlieg en het dit hulle baie bykomende tyd gegee om te akklimatiseer.

“Voordat ons amptelik saamgetrek het, het die spelers reeds op hul eie in die Kaap geoefen en vertroud geraak met die toestande. Lloyd, Raven en Ruan is boonop van die Kaap af, so hulle sal baie op hul gemak wees,” het Ondruska gesê.

“Ons eerste oefensessies het goed afgeloop en daar is ’n groot opgewondenheid in die kamp.”

Volgens die SA kaptein sal een van die grootste uitdagings die naweek die onvoorspelbare Kaapse weer wees. ’n Fris bries, wat oor die bane by die Kelvin Grove-klub gewarrel het, het sake sover vir die spelers bemoeilik.

Raven Klaasen het meer tyd gehad om in Kaapstad te akklimatiseer nadat hy en sy Nieu-Seelandse dubbelspelmaat, Michael Venus, in die tweede ronde by die Amerikaanse Ope uitgeskakel is.Foto: Getty Images

Hy sê hulle sal in die komende dae aan ’n strategie werk wat dié weerstoestande in ag neem.

Ondruska glo dis ’n pluspunt dat iemand soos Roelofse baie in die Kaapse wind speel en dus nie daardeur ontsenu sal word nie.

“Lloyd is ook iemand wat leer om aan te pas by toestande wat van dag tot dag verander.”

Bulgarye se kaptein, Todor Enev, het Dinsdag sy verligting uitgespreek dat dié kragmeting op seevlak beslis gaan word. Suid-Afrika het in vorige jare sy Davisbeker-wedstryde op die Hoëveld gespeel, waar die dun lug ’n bondgenoot vir die tuisspan was.

“Dit pas ons soos ’n handskoen om op seevlak te speel. Ons het vyf dae om aan die toestande hier gewoond te raak. Dis net die wind wat ons ’n bietjie pla,” het Enev op ’n nuuskonferensie gesê.

Volgens die vroeë weervoorspelling vir Vrydag en Saterdag lyk dit asof die wind eers betreklik lig uit die weste en dan liggies uit die noordweste gaan waai. Die verwagte temperatuur gaan ook aan die koel kant wees (16 grade Celsius Vrydag en 18 Saterdag).

Die loting vir die kragmeting word Donderdag tussen 11:00 en 13:00 by Groot Constantia gedoen.

* Drie opkomende SA spelers, Richard Thongoana, Bertus Kruger en Joubert Klopper oefen vandeesweek saam met die Davisbeker-span. Thongoana en Kruger studeer nes Henning aan universiteite in die VSA.

* Enev sal sy finale viertal uit Dimitar Kuzmanov, Alexander Lazarov, Alexander Donski, Gabriel Donev en Adrian Andreev kies. – Sportredaksie

Meer oor:  Raven Klaasen  |  Marcos Ondruska  |  Lloyd Harris  |  Davisbeker
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.