Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Tennis
Gelukkige 13 vir ramkat Rafael Nadal

Rafa, jou ou ramkat!

Die Koning van Klei, Rafael Nadal van Spanje, het Sondagmiddag sy heerskappy op Roland Garros tot ’n nuwe vlak geneem deur die top-gekeurde, Novak Djokovic van Serwië, in skoon stelle met 6-0, 6-2, 7-5 te verslaan.

’n Nuwe feesviering, vir ’n ou gewoonte. Vir ’n verandering het Rafael Nadal nie plat op sy rug in Roland Garros se rooi klei gaan lê ná hy Sondag vir die dertiende keer die Franse Ope gewen het nie – maar die glimlag op sy gesig was net so groot soos met sy vorige suksesse. Foto: Getty Images

Vir Nadal het al die kaarte net reg geval in wat sy 100ste sege in die Franse Ope was. Dis die 13de keer wat hy die titel syne maak.

Hy sluit boonop nou by Roger Federer aan met ’n totaal van 20 Grand Slam-titels.

“Roland Garros beteken alles vir my. Dit is die belangrikste plek vir my om tennis te speel. Om nou saam met Roger die meeste Grand Slam-titels te gewen het, is nie waaroor dit vandag vir my gaan nie.

“Dit is net so spesiaal om hier te kon wen. Dit was ’n baie taai jaar en hierdie beteken vir my so, so baie,” het Nadal in die onderhoud ná sy sege van agter sy masker gesê.

Die Spanjaard het Djokovic in daardie eerste twee stelle behoorlik verrinneweer – en agterna amper half verskonend daaroor geklink.

Dit is die eerste wedstryd vanjaar waar Djokovic ’n wedstrydpunt teen hom gehad het en behoorlik geklop is. Sy enigste ander nederlaag was in die Amerikaanse Ope, waar hy gediskwalifiseer is.

Vir iemand met só ’n rekord, wat vanjaar ses titels insluit, is Djokovic eintlik verneder in hierdie eindstryd.

Die eerste stel was eenrigtingverkeer soos Roland Garros lanklaas gesien het. Nadal het dit ná 45 minute beklink met ’n kishou.

Dit het omtrent ’n uur se spel geneem voordat Djokovic sy eerste pot kon wen en ook sy afslaan die eerste keer behou het.

Sy sukses was egter van korte duur, want Nadal het weer in die derde pot gebreek en toe weer in die vyfde. In daardie eerste twee stelle het die ongedwonge foute soos water van Djokovic se raket gevloei. Nadal was soos ’n muur aan die anderkant van die net en het eenvoudig alles teruggestuur na die Serwiër.

In die derde stel het Djokovic darem beter bygehou. Hy het met meer aggressie begin speel en meer vorentoe probeer gaan.

Nadal het in die vyfde pot van die derde stel in ’n strooppot deurgebreek en die uitdrukking op Djokovic se gesig was een van stille aanvaarding. Hy was ’n verslane man.

Maar tog was daar nog bietjie veggees oor in hom. Hy het in die volgende pot die eerste en enigste keer in die wedstryd deurgebreek op Nadal se afslaan om sy ondersteuners ’n tikkie hoop te gee.

In die elfde pot het hy die deur egter weer wawyd oopgemaak vir Nadal, wat deurgebreek het ná die Serwiër ’n dubbelfout gemaak het.

Dit het Djokovic se doppie finaal geklink.

“Ek het dit vandag aan my eie bas gevoel hoekom jy die Koning van Klei is,” het Djokovic die kampioen lof toegeswaai.

Djokovic het ook melding gemaak van hoe moeilik omstandighede vanjaar vir die spelers was, maar het tog gesê dit is wonderlik om te kan doen waarvoor hulle so lief is.

“Dit is egter nie lekker om só te verloor het,” het hy sy loesing aan die hande van die “eienaar” van Roland Garros opgesom.

Meer oor:  Novak Djokovic  |  Franse Ope  |  Rafael Nadal  |  Roland Garros
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.