Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Tennis
Groot 3 oorheers steeds tennis

Die Groot Drie in manstennis het hul heerskappy voortgesit, terwyl vanjaar se vier Grand Slam-toernooie elk ’n nuwe vrouekampioen opgelewer het.

Rafael Nadal van Spanje was in drie eindstryde te sien, Novak Djokovic van Serwië in twee en Roger Federer van Switserland in een.

Rafael Nadal is op 33 die oudste nog om die jaar as die voorste manspeler af te sluit. Foto: Getty Images

Djokovic se Australiese Ope- en Wimbledonse titel en Nadal se soveelste triomf op Roland Garros en daarna in New York, het meegebring dat die sogenaamde Groot Drie nou saam met 55 van die laaste 66 Grand Slam-krone spog.

Die Grand Slam-seisoen het weer heelwat eerstes opgelewer.

Naomi Osaka van Japan het met haar vierde probeerslag die Aussie Ope gewen.

Dit was Osaka, wenner van die Amerikaanse Ope in 2018, se tweede Grand Slam-titel. Sy was volgens tennisnow.com daarmee die eerste vrou sedert Jennifer Capriati in 2001 om haar eerste twee Grand Slam-titels in agtereenvolgende toernooie te wen.

Osaka, die vierde gekeurde, het die agtste gekeurde Petra Kvitová van Tsjeggië met 7-6(2), 5-7, 6-4 in Melbourne geklop.

Ashleigh Barty spog in Parys met haar trofee. Foto: Getty Images

Die wêreld se voorste vrouespeler, Ashleigh Barty, was met haar eerste Grand Slam-titel die eerste Aussie-wenner op Roland Garros sedert Margaret Court in 1973. Die agtste gekeurde het ’n senuagtige Tjeggiese tiener Marketa Vondrousova met 6-1, 6-3 in die eindstryd geklop.

Roemenië se Simona Halep se groot droom is bewaarheid toe sy Wimbledon gewen het nadat sy die vorige jaar die wenner in Parys was. Sy het Serena Williams van Amerika met 6-2, 6-2 getroef.

Die 19-jarige Bianca Andreescu van Kanada het in September as 15de gekeurde geskiedenis in die Amerikaanse Ope op Flushing Meadows gemaak. Sy was die eerste speler in die Ope-era om dié Ope met haar eerste probeerslag te wen.

Andreescu het Williams met 6-3, 7-5 in die eindstryd verslaan.

Sy was ook die eerste Kanadees om ’n Grand Slam-toernooi te wen. Sy het vanjaar merkwaardige opgang van 152ste tot vyfde op die wêreldranglys gemaak.

Maria Sharapova was met 2006 se Amerikaanse Ope die laaste tiener om ’n Grand Slam-titel te wen.

Dit was die 38-jarige Williams, met 23 Grand Slam-titels, se vierde nederlaag in ’n Grand Slam-eindstryd in twee jaar en sy sal na dese begin wonder of Court se rekord van 24 haar nog beskore gaan wees.

* Djokovic was aan die begin van die jaar die eerste speler om die Australiese Ope vir die sewende keer te wen.

Sy vyfde Wimbledonse titel later was sy 16de Grand Slam-titel.

Hy het Roger Federer in ’n soveelste epiese eindstryd – die langste eindstryd nog op die groen lower van SW19 – in 4 uur en 57 minute met 7-6(5), 1-6, 7-6(4), 4-6, 13-12(3) getroef om sy titel te behou.

Federer het twee wedstrydpunte gehad.

Bianca Andreescu ná haar sege in New York. Foto: Getty Images

Djokovic het op 7-8 in die beslissende stel die twee wedstrydpunte teen hom oorkom. Hy was daarmee die eerste speler in 71 jaar om dit in ’n Wimbledonse eindstryd reg te kry en toe te seëvier volgens tennisnow.com.

Die Serwiër moes hom aan die Amerikaanse Ope met ’n skouerbesering in die vierde ronde onttrek.

Die 33-jarige Nadal het sy rekord op die kleibane in Parys tot 12 seges opgestoot toe hy vir Dominic Thiem met 6-3, 5-7, 6-1, 6-1 in die eindstryd geklop het.

Sy titel in New York was sy 19de Grand Slam-enkelspel-titel en hy blaas nou in die nek van Federer wat met 20 spog.

Nadal het die jaar as die voorste speler ter wêreld op die ranglys afgesluit.

Sy teenstander in die eindstryd van die Amerikaanse Ope, Daniil Medvedev van Rusland, Thiem van Oostenryk en Stefanos Tsitsipas van Griekeland wat die ATP-jaareindtoernooi gewen het, word beskou as spelers wat die Groot Drie voortaan kan laat sweet om nog rekords in te ryg.

* Suid-Afrika se Kevin Anderson was vanjaar net in die Australiese Ope en Wimbledon in aksie waar hy die tweede en derde ronde onderskeidelik gehaal het.

’n Elmboog- en later kniebesering was die rede waarom hy net 15 wedstryde gespeel het en van 5de tot 91ste op die ranglys uitgesak het.

Sy landgenoot Lloyd Harris was vanjaar in al vier Grand Slam-toernooie in aksie en het van 127ste tot 99ste gevorder nadat hy ’n keer by 82ste gedraai het.

* Bykomende bronne: atptour.com, wtatennis.com.

Meer oor:  Tennis  |  Jaaroorsig 2019  |  Rafa Nadal
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.