Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Tennis
Simona Halep kry wéér op haar baadjie

Simona Halep, ’n tweemalige kampioen in die Madrid-Ope, is Dinsdag in die derde ronde van dié kleibaantoernooi uitgeskakel.

Halep, nr. 3 op die wêreldranglys, het verlede week ook in die halfeindronde van die Porsche Grand Prix-tennistoernooi in Stuttgart, Duitsland, vasgeval.

Elise Mertens het Dinsdag Simona Halep se Madrid-paadjie beëindig. Foto: Getty Images

Elise Mertens van België, die 13de gekeurde, het die eerste stel teen die derde gekeurde Halep verloor en was in die tweede en derde stelle op die agtervoet, maar het eindelik ná 2 uur 34 minute met 4-6, 7-5, 7-5 geseëvier.

Die Roemeen het gesê haar teenstander was beslis sterker teen die einde.

Halep het tien dubbelfoute begaan. Volgens wtatennis.com het Mertens self nege dubbelfoute begaan.

Dis die eerste keer sedert 2015 – toe sy teen Alizé Cornet van Frankryk in die eerste ronde vasgeval het – dat Halep voor die kwarteindronde in Madrid uitgeskakel is.

Mertens kom nou in haar eerste kwarteindstryd in Madrid teen Belarus se vyfde gekeurde Aryna Sabalenka te staan. Sabalenka het Amerika se Jessica Pegula met 6-1, 6-2 in minder as ’n uur geklop.

Die ongekeurde Rus Anastasia Pavlyuchenkova het verras en die elfde gekeurde Jennifer Brady van Amerika in ’n marathonstryd met 7-5, 6-7(8), 6-3 geklop. Die wedstryd het byna drie uur geduur.

Die Tsjeggiese enkel- en dubbelspelspeler Barbora Strycova het Dinsdag haar uittrede aangekondig. Foto: Getty Images

• Intussen het ’n swanger Barbora Strycova haar uittrede aangekondig.

Sy is ’n voormalige finalis in die Wimbledon-halfeindronde en dubbelskampioen saam met Hsieh Su-wei.

Die 35-jarige Tsjeg het in Februarie in die Australiese Ope die eerste ronde van die enkelspel gehaal en die tweede ronde van die dubbelspel.

• Die mans is ook die week in Madrid in aksie.

Andrey Rublev, die sesde gekeurde, het ’n agterstand uitgewis om Tommy Paul in die tweede ronde te klop.

Die Rus was nie op sy beste nie, maar het sy Amerikaanse teenstander met 6-7(5), 6-3, 6-4 geklop.

Denis Shapovalov se moeilike veldtog op die kleibane duur voort.

Die Rus Alexander Bublik het die Kanadees met 6-4, 5-7, 6-4 geklop.

“Ek het nou ’n bier nodig. Ek moet hierdie nederlaag oorkom. Ek voel nie nou baie positief nie,” sê Shapovalov.

Spanje se Albert Ramos-Vinolas het Taylor Fritz van Amerika met 7-5, 5-7, 6-4 geklop.

• Intussen moet die Internasionale Tennisfederasie (ITF) ’n nuwe stad vind vir sy Billie Jean King-bekertoernooi, voorheen die Fedbeker-spantoernooi vir vroue.

Die Hongaarse Tennisvereniging het Dinsdag gesê Boedapest sal nié die toernooi kan aanbied nie.

Die spantoernooi moes in April plaasvind, maar is weens die Covid-19-pandemie uitgestel. – Sportredaksie, TeamTalk

Meer oor:  Itf  |  Andrey Rublev  |  Denis Shapovalovnis  |  Simona Halep  |  Tennis  |  Madrid-Ope  |  Elise Mertens
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.