Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Tennis
Harris maak Federer opgewonde

Suid-Afrika sal altyd goeie tennisspelers oplewer, sê Roger Federer.

Dié 20-malige Grand Slam-kampioen is in Kaapstad waar hy Vrydagaand vir die eerste keer in ’n mededingende tenniswedstryd in aksie sal wees.

Roger Federer Woensdag op ’n nuuskonferensie in Kaapstad ná ’n warrelwind-besoek aan Namibië. Foto: Jaco Marais

Sy teenstander in die Match in Africa-vertoonwedstryd ten bate van sy stigting, is sy jare lange Spaanse mededinger Rafael Nadal.

“Suid-Afrika het goeie afrigters en is beter daaraan toe as ander Afrika-lande.

“Dit is veral die plattelandse gebiede wat swaar trek en nie sommer ’n goeie speler gaan oplewer nie. Ek was al in Zambië, waar ’n skool nie eens van tennis geweet het nie.”

Federer was baie ingenome met die spel wat hy van die 22-jarige Suid-Afrikaner Lloyd Harris in verlede maand se Adelaide-toernooi gesien het.

“Ek het sy halfeindstryd en die eindstryd dopgehou. Hy is ’n baie goeie speler,” het Federer gesê.

Ek sal beslis ná my uittrede op opvoeding fokus.
Roger Federer

Harris het vir die eerste keer ’n ATP-eindstryd gehaal, maar teen die Rus Andrey Rublev vasgeval.

“Natuurlik is daar ook Kevin Anderson. Ek en hy was natuurlik ’n paar jaar gelede in ’n epiese stryd op Wimbledon betrokke.”

Die Suid-Afrikaner het die Switser in 2018 in ’n dramatiese stryd oor vyf stelle in die kwarteindronde geklop.

Federer, tans nr. 3 op die wêreldranglys, het gesê hy is tevrede met die begin van sy seisoen, al het hy in die halfeindronde van die Australiese Ope verloor.

Nadal voer die botoon in ATP-kragmetings met die Switser. Hy het 24 van sy wedstryde gewen, met Federer wat 16 keer die botoon gevoer het.

Al is Vrydagaand ’n vertoonwedstryd, is albei spelers baie mededingend en hulle sal alles uithaal.

Ons stry al twee jaar oor ’n datum vir die Kaapstad-wedstryde. Hy wou dit al vroeër doen, maar ons programme het dit nie toegelaat nie.
Roger Federer

Dié twee mededingers en vriende het mekaar al ’n paar keer in Match for Africa-wedstryde gepak.

Federer sê hy is opgewonde om hier in ’n nuwe omgewing, en nie die gewone stede nie, teen Nadal te speel.

“Ons stry al twee jaar oor ’n datum vir die Kaapstad-wedstryde. Hy wou dit al vroeër doen, maar ons programme het dit nie toegelaat nie.

“Ek kan nie wag om hom hier te verwelkom nie.”

Roger Federer
Roger Federer kom Woensdag by die Kaapstad-lughawe aan. Foto: Jaco Marais

Die Spanjaard word Donderdag in die Moederstad verwag.

Federer het gesê hy het gerus en rehabilitasie gehad vir sy beseerde lies, wat hom in die Aussie Ope gepla het, en dit behoort hom nie Vrydag te kortwiek nie.

Die 38-jarige legende is weer oor sy uittrede uitgevra en het nogmaals bevestig hy het nog lank nie sulke planne nie.

“Dit sal van my gesin afhang. My vrou en kinders het my ook nodig.

“Ek sal beslis ná my uittrede op opvoeding fokus.”

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.