Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Tennis
Lloyd Harris pak moeë Rus in eindstryd

Eers vir die slegte nuus: Lloyd Harris, die 22-jarige opkomende Kaapse tennisster, sal Saterdag in Adelaide met ’n top20-speler op die wêreldranglys moet afreken as hy sy eerste ATP-titel wil verower.

Lloyd Harris vier sy oorwinning oor Tommy Paul in die halfeindronde van die Adelaide International-toernooi.Foto: Getty Images

Maar die goeie nuus vir Harris, tans 91ste op die ranglys, is dat sy teenstander, die Rus Andrey Rublev (die wêreld se nr. 18), straks maar tammerig sal wees wanneer hy vir die eindstryd van die Adelaide International-toernooi aantree.

Hoewel albei spelers drie stelle nodig gehad het om hul onderskeie teenstanders tot oorgawe te dwing, het Harris die voordeel dat sy halfeind die middag reeds afgehandel is, terwyl Rublev tot kort voor middernag (Australiese tyd) moes spook om die eindstryd te haal.

Rublev se halfeindstryd teen nóg ’n talentvolle jongeling, Felix Auger-Aliassime van Kanada (nr. 22 in die wêreld), het sekondes kort van drie uur geduur. Die Rus het uiteindelik met 7-6(5), 6-7(7), 6-4 geseëvier.

Harris het vir sy eerste ATP-eindstryd gekwalifiseer toe hy ’n mede-kwalifiseerder vir dié toernooi, Amerika se Tommy Paul, met 6-4, 6-7(3), 6-3 getroef het.

Dié wedstryd teen ’n speler wat ’n enkele plek bo hom op die ranglys is, het twee uur en agt minute geduur.

Wat Harris ook moed sal gee voor sy kragmeting met Rublev, ook 22 jaar oud, is dat hy vandeesweek reeds met drie spelers in die top-40 op die ranglys afgereken het.

Die Rus Andrey Rublev het sy plek in die eindstryd teen Lloyd Harris ná ’n uitmergelende stryd teen Felix Auger-Aliassime bespreek.Foto: Getty Images

Hulle was die Spanjaard Pablo Carreno Busta (30ste), die Chileen Christian Garin (36ste) en Laslo Djere (40ste) op ranglys) van Serwië.

Harris het met sy 13 kishoue in die wedstryd nou altesaam 60 kishoue in vandeesweek se vier wedstryde gemoker.

Dié lenige speler, wat 1,93 m in sy sokkies staan, het verlede jaar al gewys dat hy hom op die groot verhoog kan laat geld.

Hy het in die Franse Ope sy eerste wedstryd in die hoofloting van ’n Grand Slam-toernooi gewen toe hy die Tsjeg Lukas Rosol met 6-1, 4-6, 2-6, 6-1, 6-2 verslaan het.

Hy het daarna by Wimbledon die Switserse maestro Roger Federer vroeg op die agtervoet gehad toe hy die eerste stel van hul eersteronde-kragmeting gewen het.

Harris het in September verlede jaar, in Chengdu, China, die eerste keer die halfeindronde van ’n ATP250-toernooi gehaal.

Hy het verlede week ook gehelp om Suid-Afrika tot oorwinnings oor Chili en Frankryk te voer in die toernooi om die ATP-beker.

* Harris se eindstryd word van 09:15 (SA tyd) regstreeks op SS 8 uitgesaai.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.