Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Tennis
Harris steeds vies vir Zverev oor New York

Lloyd Harris sê hy het agterna weer ’n woordjie gehad met Alexander Zverev oor sy sportmangees en is steeds omgekrap oor die gebeure in hul kwarteindstryd in die Amerikaanse Ope.

Lloyd Harris het Dinsdag erken hy was nie gelukkig met Alexander Zverev se sportmangees in hul kwarteindstryd nie. Foto: Getty Images

Die Suid-Afrikaanse tennisspeler het verlede Woensdag op 6-5 in die valbylpot van die eerste stel afgeslaan om die voortou in die wedstryd te neem toe die vierde gekeurde Duitser spel gestop het om weer kapsie oor die groot skerm te maak.

Zverev het ná die wedstryd op sosiale media deurgeloop vir die tydsberekening daarvan met Harris wat vir die eerste stel afgeslaan het.

Zverev het voortgegaan om die valbylpot te wen waarna hy die wedstryd teen ’n ontstelde Harris met 7-6(6), 6-3, 6-3 beklink het.

“Ek was uiteraard ontsteld daaroor, rêrig ontsteld,” het Harris Dinsdag op ’n nuuskonferensie gesê.

“Ek het nie gedink . . . dis uiteraard nie ’n sportiewe ding om te doen nie. Jy slaan af op stelpunt en hier moet jy wag vir twee minute, dis bykans ongehoord, veral in so ’n groot wedstryd,” sê Harris.

Hy sê hy het daarna fokus met die volgende punte verloor wat Zverev toegelaat het om die eerste stel te wen.

Harris sê dit was geestelik moeilik om te verwerk om eensklaps drie punte te laat deurglip nadat hy vir die stel afgeslaan het.

“Dit was uiteraard nie ’n maklike situasie om te hanteer nie.”

Dit kon dalk ’n ander wedstryd gewees het, maar dit beteken ook nie dinge sou na my kant toe gegaan het nie.

Die Kapenaar het ná die stel uit frustrasie van sy waterbottels op die baan gegooi. Terwyl beamptes die baan drooggemaak het, het Harris en Zverev ’n woordjie gewissel.

“Ons het ná die wedstryd ’n heelwat langer bespreking daaroor gehad, want ek was nie gelukkig nie. Ek moes vir hom sê hoe ek voel. Ons kom van die baan af rêrig goed oor die weg en ek dink dit was die beste ding om te doen (omdat ek steeds nie tevrede was nie).

“Hy het sy situasie verduidelik. Ek het vir hom gesê dit was nie die regte ding om te doen nie, maak nie saak wat daar gebeur nie, jy moet aangaan, jy moet dit laat staan en ons moet aanhou speel.

“Hy het om verskoning gevra en ons het dit uitgepraat. Ek is egter nog steeds nie gelukkig oor die situasie nie, maar ’n ou moet aanbeweeg.

“Dit kon dalk ’n ander wedstryd gewees het, maar dit beteken ook nie dinge sou na my kant toe gegaan het nie,” sê Harris.

Die 24-jarige Suid-Afrikaner het intussen ná sy eerste kwarteindstryd in ’n Grand Slam-toernooi 15 plekke tot 31ste op die wêreldranglys geklim.

• Harris het in New York aangebly vir Suid-Afrika se Davisbeker-kragmeting met Venezuela wat die naweek daar by die West Side-tennisklub beslis word.

Die Wêreldgroep II-kragmeting word om veiligheidsredes weens die situasie in Venezuela op ’n neutrale baan beslis.

Die finale Suid-Afrikaanse span sal Vrydag met die loting bekend gemaak word, sê Christo van Rensburg.

Dit is Suid-Afrika se eerste wedstryd onder Van Rensburg as die spankaptein.

Van Rensburg sê die groep spelers waaruit die deelnemers gekies gaan word, het reeds verlede Vrydag daar saamgetrek.

Meer oor:  Tennis  |  Lloyd Harris  |  Alexander Zverev
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.