Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Tennis
Harris Suid-Afrika se tennisheld
Lloyd HarrisFoto: Gallo Images

Sy Kaapse skare het ’n verskil gemaak, terwyl die briesie ook ’n bondgenoot was toe hy na ’n hoër rat moes oorskakel.

So sê Lloyd Harris nadat hy Suid-Afrika gehelp het om Bulgarye Saterdag in Kaapstad in hulle Davisbeker-kragmeting te klop.

Die telling met 4-1 by die Kelvin Grove-tennisklub in Nuweland om na Groep 1 van die Euro/Afrika-sone terug te keer, was toevallig dieselfde as 26 jaar gelede in Sofia in die spanne se enigste ander kragmeting waarin die huidige spankaptein, Marcus Ondruska, nog gespeel het.

Suid-Afrika het ná sy sege in die dubbelspelwedstryd Saterdag met 2-1 voorgeloop toe Harris die Bulgare se voorste speler, Dimitar Kuzmanov, met 6-3, 7-6(3) geklop het om die gasheer in ’n onaanvegbare posisie in die kragmeting te plaas.

“Ek voel ekstaties oor ons sege. Dit was vandag (Saterdag) veral moeilik gewees,” het die span se groot held na die wedstryd gesê.

Kuzmanov het ’n gulde geleentheid gehad om sy span se wedstryd tot ’n derde stel te verleng toe hy op 5-4 afgeslaan het.

Ek het op 4-5 net my voet neergesit. Ek het die wind so ’n bietjie aan my kant gehad.
Lloyd Harris

Die 22-jarige Kapenaar het toe ook met behulp van die wind wat op die tweede dag gewaai het, na ’n hoër rat oorgeskakel.

“Hy (Kuzmanov) het baie goed in die tweede stel afgeslaan en dit was moeilik om weer ’n deurbraak te kry.

“Ek het op 4-5 net my voet neergesit. Ek het die wind so ’n bietjie aan my kant gehad. Ek het ’n klompie aggressiewe en goeie punte gespeel deur my voorarmhoue te gebruik.

Philip HenningFoto: Gallo Images

“Ek het, toe ek die deurbraak gemaak het, net gevoel dit is my stel, ons gaan nou en hier klaarmaak met die wedstryd,” sê Harris.

Hy het met ’n valbylstryd, waarin hy gou met 4-1 voorgeloop het, die wedstryd en die kragmeting vir Suid-Afrika beklink.

Met die kragmeting reeds gewonne het die tiener Philip Henning weer soos verlede jaar teen Portugal speelkans gekry.

Die 18-jarige Henning het op indrukwekkende wyse in ’n uur soos ’n miswolk oor Tafelberg oor Gabriel Donev gerol.

Sy sege met 6-2, 6-3 het meegebring het dat die gasheer al drie Saterdag se wedstryde gewen het.

Hoewel Donev maar die 796ste plek op die ranglys beklee, het Henning gewys hy is ’n speler vir die toekoms.

*Suid-Afrika se ervare Raven Klaasen en Ruan Roelofse het vroeër die oggend vir Alexander Donski en Alexandar Lazarov in net meer as ’n uur met 6-3, 6-2 in die dubbelspelwedstryd kafgedraf.

Meer oor:  Raven Klaasen  |  Lloyd Harris  |  Suid-Afrika  |  Bulgarye  |  Tennis  |  Davisbeker
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.