Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Tennis
Court beskuldig TA van diskriminasie

Margaret Court vaar uit teen Tennis Australië (TA) met beweringe van diskriminasie oor haar sienings jeens selfdegeslag-huwelike en beskryf haar behandeling by die Australiese Ope as “baie hartseer”.

Margaret Court word as ’n omstrede figuur beskou weens haar uitlatings oor ras, die LGBT-gemeenskap en transgender-atlete. Foto: Getty Images

TA sê egter die wenner van 24 Grand Slam-enkelspeltitels, die meeste in vrouetennis, het BBP-behandeling ontvang.

Die beheerliggaam het Court (77) na die afgelope toernooi in Melbourne genooi om haar op die 50ste herdenking van haar kalender-Grand Slam in 1970 te vereer. TA het dit egter duidelik gestel hy erken haar prestasies op die baan eerder as om haar as individu te vier en dat hy gekant is teen haar omstrede sienings oor homoseksualiteit.

Court het tydens ’n gedempte seremonie op die Rod Laver-arena ’n replika van die Daphne Akhurst-trofee ontvang terwyl ’n dokumentêr oor haar loopbaan gebeeldsend is, maar sy is nie ’n mikrofoon aangebied om ’n toespraak te lewer nie.

7news berig Court sê dit het haar laat voel of sy gemuilband word.

“Ek dink hulle (TA) dink omdat ek ’n predikant is dat ek die evangelie sal preek, maar ek sou dit nooit doen nie,” sê sy.

“Daar is ’n tyd om te praat en ’n tyd om nie te praat nie. Hulle (TA) wys die vinger na my en probeer diskrimineer in alles wat ek gedoen het. Ek dink dit is baie hartseer.”

TA sê in ’n verklaring daar is alles gedoen om te verseker Court en haar gesin voel gemaklik en veilig by die toernooi waar haar “ongeëwenaarde” tennisprestasies erken is. Sy is as ’n “hoëprofiel-BBP-gas” verwelkom, terwyl sy en haar man, Barry, in totaal 46 ekstra kaartjies ontvang het vir familie en vriende om die seremonie by te woon.

Margaret Court en haar man, Barry. Foto: Getty Images

Die geleentheid is die volgende dag effens versuur toe die tennislegendes Martina Navratilova en John McEnroe in die openbaar ’n beroep op die tennisowerhede gedoen het dat die Margaret Court-arena na Evonne Goolagong hernoem word.

“Ek sou nooit na ’n ander land gaan en daarop aandring dat iemand se naam van ’n gebou verwyder word nie, ek dink dit is baie verkeerd,” sê Court.

Navratilova en McEnroe is deur TA berispe.

McEnroe het Court ook as ’n “nagmerrie vir TA” en ’n “mal tannie” beskryf weens haar uitlatings oor homoseksualiteit.

“Ek het altyd gedink ek kom goed oor die weg met John McEnroe en ek het hom respekteer, so sy optrede het my regtig verras,” sê Court.

“Ek voel jammer vir hom dat hy so praat en nie in staat is om een aspek van die lewe van ’n ander te onderskei nie.

Martina Navratilova en John McEnroe met die banier waarmee hulle versoek dat die Margaret Court-arena hernoem word. Foto: @yelnats_eel/Twitter

Court het in 2011 gesê homoseksualiteit is ’n “afskuwelike seksuele praktyk”.

Court preek gereeld in haar Victory Life-kerk in Perth dat ’n huwelik tussen ’n man en ’n vrou is en dat ’n kind ’n ma en ’n pa nodig het.

Sy is in Desember weer in omstredenheid gedompel ná haar tirade teen transgender-atlete en haar beskrywing van die onderrig van LGBT-regte as “van die duiwel af”.

Court sê sy het Navratilova probeer kontak om te gesels voor haar en McEnroe se protes, maar sonder sukses.

Court het in 1990 gesê Navratilova is ’n goeie speler, maar “dit is baie hartseer dat kinders aan homoseksualiteit blootgestel word”.

– Sportredaksie

Meer oor:  Australiese Ope  |  Tennis  |  Martina Navratilova  |  Lgbt  |  John Mcenroe  |  Margaret Court
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.