Asof dit nie erg genoeg is om in streng kwarantyn te bly voor volgende maand se Australiese Ope nie, is Kazakstan se Yulia Putintseva boonop deur ’n ongewenste kamermaat, ’n muis, getreiter.
Putintseva tel onder die spelers wat gevra is om vir twee weke in afsondering in hul hotelkamers te bly nadat Covid-19-gevalle geïdentifiseer is op die huurvlugte wat hulle na Melbourne geneem het.

Yulia PutintsevaFoto: Getty Images
Die wêreld nommer 28, wat op die vlug van Abu Dhabi aangekom het, was reeds ontsteld nadat sy beweer het hulle is nie vooraf ingelig dat al die spelers aan boord in kwarantyn geplaas sal word indien iemand vir die koronavirus positief toets nie.
Die toestand van Putintseva se kamer in Melbourne het nie gehelp om haar te laat kalmeer nie.
“Ek probeer al vir twee ure om van kamer te verander! Weens die kwarantynsituasie het niemand kom help nie,” het Putintseva op Twitter geskryf by ’n video van die muis wat in haar kamer rondhardloop.
Die video het die Britse tennisspeler Andy Murray se ma, Judy, laat skerts dat Putintseva ’n kat nodig het om die probleem te help oplos.
Van die spelers wat gekla het oor die streng kwarantynmaatreëls wat hulle tot hul hotelkamers beperk, het onder kritiek op sosiale media deurgeloop, maar Belinda Bencic, nr. 12 op die wêreldranglys, het die lug gesuiwer.
“Ons kla nie daaroor om in kwarantyn te wees nie. Ons kla oor ongelyke oefen- of speltoestande voor belangrike toernooie,” het die Switser getwiet.
Sorana Cirstea van Roemenië het bygevoeg: “Ek het geen probleem daarmee om 14 dae in die kamer te bly en Netflix te kyk nie. Glo vir my dit is ’n droom wat bewaarheid is, selfs ’n vakansie.”
“Wat ons nie kan doen nie, is om deel te neem nadat ons 14 dae op ’n rusbank deurgebring het. Dit is die probleem, nie die kwarantynreël nie.”
Ander spelers wat met ander vlugte geland het, is ook verplig om 14 dae in kwarantyn deur te bring, maar mag hul hotelle vir vyf ure per dag verlaat om te oefen.
Sowat 1 200 spelers, beamptes en personeel sal op 15 vlugte na Australië kom vir die Grand Slam-toernooi wat op 8 Februarie begin. – Reuters