Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Tennis
Henning weet nou hy kan saampraat

Suid-Afrika se Philip Henning het saamgesels en was in die wedstryd teen die nommer een en eerste gekeurde, Chun Hsin Tseng. Die enigste verskil was dat die speler van Taiwan die bepalende punte net beter gespeel het.

So sê MC Olivier, afrigter van Henning, wat die Tseng goed skrik op die lyf gejaag het in hulle wedstryd in die tweede ronde van die Amerikaanse Ope vir juniors Dinsdagaand in New York.

Philip Henning in aksie in sy buiging in die seunsafdeling in die Amerikaanse Ope in New York. Foto: USTA

Henning (17) het verras deur die eerste stel te beklink na ’n merkwaardige terugvegpoging. Hy het sewe potte agtereenvolgens gewen nadat hy met 0-5 agter was, om die stel met 7-5 te beklink.

Tseng, finalis in die juniors se Australiese Ope en kampioen van die Franse Ope en Wimbledon, het uiteindelik met 5-7, 6-1, 6-0 geseëvier.

“Die enigste verskil tussen Philip en hom vandag was die groot punte. Tseng het die bepalende punte net beter gespeel as hy.

“Ek dink nie die telling is ’n ware weerspieëling van wedstryd as jy gaan kyk na die punte (98/78) wat gewen is nie. Dit was baie nader as wat die telling aandui, dis net met die groot punte wat Tseng goed gespeel het.

“Dis wat hom so ’n goeie speler maak; hy tree na vore wanneer dit nodig is. Die groot punte was die groot ding,” sê Olivier.

Tseng het agt van die tien breekpunte wat hy gehad het gewen, terwyl Henning net vier van sy 13 breekpunte gewen het.

Dit was in baie van die potte later baie gelykop, soos in die vyfde pot van die tweede stel toe dit sewe keer 40-40 was voordat Tseng dit 4-1 gemaak het.

Olivier was nietemin in sy noppies met Henning, 50ste op die wêreldranglys, se vertoning teen ’n uitstaande speler.

Hy sê daar moet onthou word dat Tseng in die Franse Ope en sy opmars tot voor die eindstryd op Wimbledon nie ’n enkele stel verloor nie.

“Philip het hier ’n stel gevat by hom en was in die wedstryd.”

Olivier wys ook daarop dat Henning se suksespersentasie met sy eerste afslaan in die tweede en derde stel geval het nadat dit 79% in die eerste stel was.

Philip Henning op 'n oefenfiets tydens 'n spelonderbreking weens hitte.

Henning was dit eens dat dit hom later gekortwiek en onder druk gehad.

Tseng het soos ’n warrelwind begin en binne net tien minute reeds met 4-0 voorgeloop.

Henning het erken dat hy aan die begin maar op sy senuwees was en eers later sy ritme gevind het.

Die leerling van Grey-kollege het die agterstand van 0-5 tot 4-5 laat krimp toe die beamptes beslis het dis te warm om verder te speel.

“Ek was nogal verbaas toe die wedstryd op 4-5 gestop is. Ek het gevoel dit was die vorige twee dae heelwat warmer. Al die spelers in die kleedkamer (wat moes wag om hul wedstryde te hervat) het ook so gevoel,” sê Olivier.

Die onderbreking van twee en ’n half uur het Henning egter nie sy momentum gekos nie. Hy het nog drie potte agtereenvolgens gewen om die eerste stel te verower.

“Dis rêrig iets waarop hy kan trots wees. Hy het toe hulle terugkeer het om die wedstryd te hervat, geweet hy kan meeding met Tseng, iets wat hy nie geweet het voordat hy op die baan gegaan het nie.”

Meer oor:  Philip Henning  |  New York  |  Amerikaanse Ope
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.