Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Tennis
Hieroor is Novak Djokovic vanjaar spyt

Novak Djokovic het van sy beste tennis in 2020 gespeel, maar hy het misluk in sy strewe om die Amerikaanse Ope en die Franse Ope te wen en sodoende nog nader daaraan te kom om die voortou in die wedloop om die meeste Grand Slam-titels in manstennis te neem.

Novak Djokovic slaan vroeër vandeesmaand in die eindstryd van die Franse Ope in Parys af. Foto: Getty Images

Nadat hy die Australiese Ope in Januarie gewen het, is Djokovic in die Amerikaanse Ope gediskwalifiseer nadat hy ’n lynregter teen die nek geslaan het met die bal tydens sy kragmeting in die vierde ronde teen Pablo Carreno Busta van Spanje.

Hy is daarna deur Carreno Busta se landgenoot Rafael Nadal weggeblaas in die eindstryd van die Franse Ope.

Djokovic het 17 Grand Slam-titels op sy kerfstok, terwyl Nadal en Roger Federer 20 elk het nadat die Spanjaard sy 13de Franse Ope gewen het.

“Ek is spyt dat ek nie die Amerikaanse Ope of Roland Garros vanjaar kon wen nie,” het Djokovic by sy tennis-akademie in Belgrado aan die oewer van die Donau-rivier gesê.

Ek is spyt dat ek nie die Amerikaanse Ope of Roland Garros vanjaar kon wen nie.
Novak Djokovic

“Ek was uitstekend op dreef in albei toernooie, maar in die Franse Ope is ek geklop deur ’n speler wat op die dag net beter was.

“Ek was net nie opgewasse nie. Sover die Amerikaanse Ope betref, het ek myself in ’n ongelukkige situasie bevind en is ek gediskwalifiseer, maar ek het wel ander groot toernooie gewen.

“Met die uitsondering van die Amerikaanse Ope het ek net een wedstryd die hele jaar verloor en van die beste tennis van my lewe gespeel.”

Hy stem ook nie daarmee saam dat hy onder druk is om Nadal en Federer verby te steek in die “Groot Drie” se stryd om die meeste Grand Slam-titels te verower nie.

“Druk is deel van my lewe en ek het geleer hoe om dit te hanteer,” sê hy.

“Dis iets waaraan jy moet gewoond raak as jy ’n top-sportman is en dit spoor jou aan. Jy kry fisieke en geestelike terugslae langs die pad en dit is deel van die leerkurwe.

“As ek nou uittree, sal ek gelukkig wees met wat ek bereik het, maar ek geniet dit steeds om mee te ding en elke toernooi waarin ek speel, gee my motivering en genot.” – Reuters

Meer oor:  Novak Djokovic  |  Tennis  |  Amerikaanse Ope  |  2020  |  Roland Garros
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.