Hoewel Ashleigh Barty, die wêreld se voorste vrouetennisspeler, nie kan wag om haar slag by die Australiese Ope te wys nie, byt sy langtand aan die idee dat sy die eerste Aussie-vrou in 43 jaar kan word om daar koning te kraai.

Ashleigh Barty kan nie wag om haar slag by die Australiese Ope te wys nie. Foto: Getty Images
Barty (24) het verlede jaar die halfeindronde in Melbourne gehaal, voordat sy die grootste gedeelte van die res van die seisoen tuis deurgebring het weens die Covid-19-pandemie. Sy is Australië se beste kans om met die titel weg te stap by die toernooi wat op 8 Februarie begin, maar Barty het haar landgenote gemaan om nie die wa voor die perde te span nie.
“Hulle kan dink wat hulle ook al wil. As hulle van my verwag om die toernooi te wen, is dit hulle verwagtinge,” het Barty Saterdag aan die media gesê.
“Dit (om te wen) is beslis nie myne op hierdie oomblik nie. Dit gaan daaroor om die regte dinge van die begin af te doen – vanaf die eerste wedstryd. As dit nie gebeur nie, gebeur dit nie. Maar dit is ook oukei.”
Christine O’Neil was die laaste Aussie-vrou wat die Australiese Ope gewen het, toe sy in 1978 koning gekraai het.
Die laaste toernooi waarin Barty in aksie was, was die Katar-Ope in Februarie 2020, waarna sy besluit het om eerder by haar huis in Queensland te wees. Dus het sy nie aan die Amerikaanse Ope deelgeneem, of die titel wat sy in 2019 by die Franse Ope gewen het, verdedig nie.
“Uit die aard van die saak het ek nou vir ’n jaar nie mededingende tennis gespeel nie, so dit gaan ’n uitdaging wees. Maar ek weet ook dat dit hopelik ’n lang seisoen gaan wees, so ek moenie paniekerig raak as ek nie met ’n knal begin nie,” sê Barty.
“Ek sal net uitgaan en my beste probeer lewer en wat ook al gebeur, sal gebeur. Ek voel gereed en jeuk behoorlik om te begin.” – Reuters, Sportredaksie