Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Tennis
Is Griekse lam volgende op spyskaart?

Die arme Stefanos Tsitsipas het waarskynlik vroeg gisteroggend met ’n beklemming om die hart in sy hotelbed in Parys geklim.

Novak Djokovic vier sy oorwinning oor Rafael Nadal. Foto: Reuters

Ja, hy sou vol vreugde wees nadat hy Vrydagmiddag ’n vyfstel-marathon teen Alexander Zverev gewen het om tot sy heel eerste Grand Slam-eindstryd deur te dring. Maar daar het sekerlik ook ’n stewige dosis vrees in sy hart ingesluip terwyl hy daarna tot donkernag gesit en kyk het hoe Novak Djokovic die Koning van Klei, Rafael Nadal, in die ander halfeind tot ’n lam en tam senuweebol gereduseer het.

Want as ’n ou dít kan doen met die beste kleibaan-speler wat die wêreld al ooit gesien het, hoe diep gaan hy nie sy tande in ’n 22-jarige eindstryd-groentjie sak nie?

Met berigte soos hierdie loop ’n mens altyd die gevaar om voorspellings te maak wat jou later met eier op die gesig laat sit, maar soms kyk ’n mens vorentoe na ’n wedstryd en sien net een moontlike uitkoms.

Só is dit vir hierdie waarnemer met vandag se Franse Ope-mans­eindstryd, waarin Tsitsipas die reusetaak sal hê om Stoomtrein Djokovic te laat ontspoor. En al het hy Zverev Vrydagmiddag verslaan deur hom met hoogs vermaaklike en effektiewe tennis stil te maak, voel ’n mens steeds hy het nie die nodige gereedskap in sy tassie om die Djokovic-enjin te ontkoppel nie.

Hoe stuit jy iemand wat nooit ophou glo hy moet wen nie? Wat ondanks seer bene en lui longe steeds agter elke bal aanhardloop en ná meer as vier ure van stoei steeds genoeg krag in sy regterarm het om missiele oor die net te vuur?

Nadal het nie Vrydag ’n antwoord gehad nie. Die Spanjaard (met 13 Franse Ope-krone agter sy naam, en voor Vrydag net twee nederlae in 107 wedstryde by Roland Garros) was ten volle in beheer terwyl hy al vyf die wedstryd se eerste potte gewen het – net om daarna die momentum te verloor en nooit weer te herwin nie.

Djokovic was vermetel genoeg om Nadal se eie taktiek teen hom te gebruik. Vir jare knikker Nadal teenstanders uit deur die sarsies op Parys se rooi klei te lank vir hul gemaksones te maak. Vrydag het Djokovic die bordjies verhang deur self te kyk hoeveel houe hy oor die net kan stuur voordat Nadal uiteindelik ’n fout maak. Dit het soos ’n bom gewerk.

Rafael Nadal Foto: Getty Images

Natuurlik het Nadal nie swak gespeel nie. Al was sy afslaan benede sy hoë standaarde, het hy steeds in algemene spel ’n paar keer verdediging in aanval verander en die skare met sy toorkunsies na hul asem laat snak.

En tog was niks wat hy gedoen het goed genoeg om Djokovic se moed te breek nie. Geen wonder Nadal se skouers het teen die einde van die laaste stel begin krom trek nie.

In die Tsitsipas-kamp kan hulle mekaar dalk wysmaak dat Djokovic Vrydagaand die eerste speler ooit geword het wat Nadal in ’n Franse Ope-halfeindstryd kon klop omdat hy die Spanjaard so goed ken. Dit was immers die duo se 58ste kragmeting.

Dalk, sal hulle vir mekaar sê, is daar nog ’n paar pyle in Tsitsipas se koker oor wat die Serwiër nie in hul vorige sewe wedstryde gesien en op kon voorberei nie.

Dalk hou Tsitsipas se 22-jarige lyf langer uit as die 35-jarige Nadal s’n. Dalk kan Tsitsipas genoeg op Djokovic se senuwees werk om hom dom foute in die groot oomblikke te laat maak, soos Vrydag met Zverev gebeur het.

Ja, dalk is dit alles moontlik. Maar dalk sal die wedstryd te lank wees vir Djokovic om nie al die onbekende kodes in Tsitsipas se spel te ontsyfer nie. En dalk het Serwië se Superman ’n groter reserwetenk as Tsitsipas, al is hy 12 jaar ouer.

Wat nie meer te betwyfel is nie, is dat Tsitsipas vir Djokovic van die eerste oomblik af onder die duim sal moet kry, en dit nie sal kan bekostig om hom ’n sekonde se asem te gun nie.

Stefanos Tsitsipas Foto: Reuters

Die Serwiër is nie 100% immuun teen druk nie, maar het ook net ’n halwe kans nodig om dit af te skud. Hy het die vermoë om homself uit enige gat te grawe, en die sand op sy teenstander te gooi.

Onthou 2019 se Wimbledon-eindstryd, toe hy die swakker speler op die baan was, maar Roger Federer steeds in vyf stelle geklop het?

Onthou Vrydag, toe hy homself in die eerste 25 minute van die stryd knaend in die voet geskiet het, voordat hy diep gedelf en die bordjies verhang het? As hy sensitief vir telbord-druk was, sou dít nie gebeur het nie.

Die idee dat die lengte van sy wedstryd teen Nadal dalk vandag teen Djokovic kan tel, is ook bog. Hy was immers in die halfeindronde net 35 minute langer op die baan as Tsitsipas. En vars soos dou teen die einde.

Vir Djokovic is vandag se eindstryd ook nie sommer net enige ou wedstryd nie. As hy wen, sal hy net een Grand Slam-titel minder hê as Nadal en Federer se rekord van 20. As hy wen, sal hy die eerste speler in meer as ’n halfeeu word wat al vier Slams twee of meer keer kon wen. Nie eens Federer of Nadal kon dit al vermag nie.

Tsitsipas verdien sy plek in die Franse Ope-eindstryd. Hy was regdeur die toernooi komkommerkoel en het sy teenstanders met wonderlike krag en kreatiwiteit oorkom. Hy is sekerlik ’n toekomstige wêreld nr. 1 en menigvuldige Grand Slam-kampioen.

Maar vir nou is hy net die blinkste ster van die nuwe generasie. En sy lig is maar nog dof teen Djokovic s’n.

* Die wedstryd kan vanaf 15:00 op SuperSport Grandstand (201) en SuperSport Tennis (214) gekyk word.

Meer oor:  Novak Djokovic  |  Stefanos Tsitsipas  |  Tennis  |  Franse Ope  |  Rafael Nadal
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.